Monday 30 September 2013

'n Tyd om aan te vul


'n Week sonder kreatiwiteit - nee, langer as 'n week... en die snaakse ding is dat ek eintlik verbaas is dat ek nie skuldig voel daaroor nie. Met 'kreatiwiteit' bedoel ek skets en skilder. Gewoonlik voel ek ongemaklik, al asof iets kortkom, as ek vir 'n paar dae nie geskilder of geteken het nie. Hierdie keer is dit anders - 'n stilte het sommer net neer gedaal... 

Ek het vir die afgelope twee jaar elke dag van my lewe iets geskilder, al was dit net 'n klein sketsie in een van my skets-joernale. Dit was soos tande borsel en iets wat ek verskriklik geniet. Maar oor die afgelope paar weke het my gedagtes, en hande, in ander rigtings begin beweeg - bietjie aandag gegee aan my huis se dekor; die tuin, wat 'n hele winter verwaarloos was, begin opgeknap; klein instandhoudingstakies wat lank verwaarloos was, weer aangepak en van my te-doen-lysie afgeskraap.


Ek maak ook gebruik van hierdie 'stil' gevoel wat oor my gedaal het om weer my yoga te beoefen, ook iets wat in die slag gebly het die afgelope twee jaar. 'n Jaar of twee terug het ek gereeld elke oggend gemediteer en ek het onlangs besef hoe baie ek dit mis. So, vyf-uur in die oggend is my spesiale stil tyd, wanneer ek siel en liggaam bymekaar skraap en ontslae raak van enige lastige pla-gevoelens. 


'n Ander voorliefde van myne was om te skryf. Briewe te skryf. In my Joernale te skryf. Deurdat ek so baie tyd voor die rekenaar en op die internet deurbring, het hierdie genotjie my begin ontglip. Mens praat met al jou vriende en familie op FaceBook en op Skype, gesels met almal in hul blogs en stuur boodskappe met jou Blackberry. Oor die afgelope paar weke het ek weer begin om briewe te skryf, meesal aan my klein kinders, en hulle dink seker hul ouma is van haar sinne beroof! Maar ek kannie vir jou sê watse heerlike genot dit is om weer 'n vulpen vas te hou en toe voel hoe dit oor die papier gly nie! 


Maar eintllik is al hierdie dinge ook maar 'n tipe van kreatiwiteit - enige iets wat die siel streel is gaaf met my! 

::


Friday 27 September 2013

'n Binnenshuise wintertuin


Meeste van my geliefste potplante was nog in die huis tot so drie weke terug, 'n jaarlikse winter-gebeurtenis wat my waskamer in 'n blommekamer verander. Tussen wasmasjiene en tuimeldroërs en opgevoude wasgoed geniet hulle 'n plekkie in die son. 

Aan die begin van elke winter word almal binne toe gedra en daar bly hulle en gesels ons met mekaar tot Lente haar kop uitsteek en almal weer uitgedra word na hulle respektiewe plekkies buite op die stoep of in die tuin. 



Symperviums, 'n geskenk van 'n geliefde vriendin 


 ::


Thursday 26 September 2013

Wanneer laas?

Ek is weer terug! Na net oor 'n maand se afwesigheid het ek van plan verander om hierdie blog toe te maak aangesien ek julle almal so gemis het! He he! So ek val sommer in die deur met die vraag...

Wanneer laas...? 
(Party van julle het dalk hierdie pos op 'Laventel & Heuning', wat nou toe is, raak gelees en ek vra om verskoning!)


Nou die dag sit ek op die stoep, beskou my tuin met al die voëltjies en insekte, net so besig met die lewe as al die motors wat verbygaan, êrens op pad na een of ander afspraak. Binne die huis het dit net so ywerig gegaan, stofsuiers en wasmasjiene wat raas en alles wat moet skoon kom voor die dag verby is. 

Hier buite was dit effens toegetrek met 'n ligte en aangename briesie. 

Dit gebeur nie sommer dat ons net stilsit en toelaat dat die wêreld om ons verbygaan nie. ........... Hoekom nie?
Wat is so belangrik wat nie kan wag tot later nie? Hoekom moet die e-Pos onmiddellik beantwoord word? Moet ons rêrig al daardie artikels nou aanlyn lees? Al die boodskappe van andere, al die koerante en tydskrifte? Is dit nodig vir die Internet, televisie en radio om al die tyd aan te wees? 

Gaan die lewe ons nie dalk verby wanneer ons ons gedagtes so super-besig hou nie? Ons mis wat in die pragtige wêreld om ons omgaan as ons gedurig oor die toekoms dink—wat ons moet doen, ons bekommernis oor wat dalk in die toekoms kan gebeur—of wat in die verlede gebeur het—wat ons verkeerd gedoen het of wat iemand anders verkeerd gedoen het, wat ons gesê het, of wat moes gebeur het. 

Wanneer was die laaste maal dat jy 'n stil oomblik ervaar het? Net gesit het in niks doen nie, na die see gestaar, gesien hoe die wind in die blare speel, na die voëltjies geluister het, gekyk hoe 'n kers flikker of kinders dop gehou het terwyl hulle speel...? 


Hoekom dit nie vandag doen nie? 

::