Saturday 30 November 2013

Wit rose en souttert


Ek is MAL oor souttert!

Ek lief wat ek hier en hier sien.

Ek lief om hier stories te lees, dis inspirerend, interessant.

Grote griet! Ek wil alles in hierdie Etsy-winkel hê!

Is almal se lewens altyd rooskleurig en mooi? Ek glo nie so nie, myne is nie en ek stem saam met hierdie blogger.

Ek hoop jy geniet hierdie warm somersdag saam met familie en vriende. Moenie bang wees om jouself te wees nie. Moenie bang wees om te sê wat jy dink nie. Glo waarin jy glo en asseblief, doen dit waarvoor jy lief is!

::

Thursday 28 November 2013

Hou insekte weg met kruie

 (Foto vanaf WikiCommons) 

Laventel is 'n wonderlike plant om in jou tuin te hê. Behalwe die feit dat dit pragtig blom en heerlik ruik, is daar soveel dinge waarvoor dit gebruik kan word. Ek het op hierdie oulike insekweerder resep afgekom van Naomi op suidersterre.co.za

Bestandele
Droë laventel takkies met blommetjies.
Wit asyn.

Metode 
Breek die blommetjies van die laventel takkies af en gooi in `n bottel. Gooi dan genoeg wit asyn in die bottel om die blommetjies toe te maak en die bottel vol te maak. Laat staan eenkant vir twee weke om te trek. (Ek sit sommer van die takkies ook by wanneer ek myne maak.)

Gooi die mengsel deur `n lap om die aftreksel te kry.

Gebruik `n stukkie watte of `n kurk prop om die mengsel op die areas te plaas waar jy die muskiete wil weghou.

Laventel kan ook self opgehang word om insekte weg te hou. (Bind dit vas met 'n mooi pers lint en hang aan jou bed se kopstuk.)

Almal van ons sukkel maar van tyd tot tyd met lastige insekte in en om die huis. Maar om op ’n natuurlike manier van dié plae ontslae te raak, is nog die beste. Ek het op hierdie rate op die internet afgekom so sorg dus dat dié rate altyd byderhand bly:

 Pietersielie

• Sprinkel pepermentolie vir insekte in die huis.
• Gebruik pietersieliesap of gekneusde pietersielieblare om lastige insekte weg te hou.
• Vars óf gedroogde koljander ontmoedig insekte.
• Gedroogde gousblomblare, gemeng met kakiebos, is ’n uitstekende insekweerder.
• Sit droë salieblare in jou kaste om insekte uit te hou.
• Prakseer ’n doeltreffende inseksproei uit vlierblaaraftreksel.
• Hang sakkies droë koorskruid in jou kaste.
• Maak ’n insekweerder van kappertjiesaadaftreksel.
• Kneus marjoleinblare om insekte af te weer.
• Gooi takkies roosmaryn op die kaggel of braaivleisvuur.
• Maak ’n inseksproei van ’n gekneusde knoffelhuisie, ’n klein, gekapte ui, 1,25 liter water en 12,5 ml skottelgoedseep. Laat ’n uur lank trek voor gebruik.
• Plant sitronellamalvas, laventel en salie, of inderdaad enige plant met ’n skerp geur.

.

Sunday 24 November 2013

Dankbaar vir droomdae...

"Albasini-dam" waterverf op Bockingford 300gsm 

Herinneringe kan niemand ooit van ’n mens wegvat nie. Uit die oorvloed herinneringe wat elke mens in sy hart ronddra, put ons daagliks baie plesier. Klein onthoudingetjies van geliefde persone wat nie meer by ons is nie is soos helderbont krale in ’n halssnoer en ons dra dié onsigbare halssnoere daagliks met ons saam. 

Ek is in Johannesburg gebore en was in Gr.I en II in Gauteng op skool. Toe het ons Pietersburg toe getrek waar ek St. I & II geslaag het. Ek moes seker toe so nege of tien jaar oud gewees het. Ons het in Pleinstraat gewoon – dis hier waar my liefde vir diere en die natuur begin het. 

My pa het dikwels huistoe gekom met een of ander diertjie: ’n trapsuutjie, ’n meerkat, selfs slange, krimpvarkies, beseerde voëltjies, wilde katjies. Eenkeer het hy selfs ’n pasgebore witstinkmuishond wie se ma deur ’n kar doodgetrap is, aangedra huistoe. Dan het ek die arme diertjies opgepas en met my pa se hulp weer gesond gekry (meestal met die hulp van boererate) en weer in die natuur vrygelaat. 

Nie alle reddingspogings was altyd ewe geslaagd nie. Ek onthou toe ’n krimpvarkie wat ek vir drie weke liefdevol gedokter het (die honde het hom bygekom en sy hele neus en mondjie afgekou) tog nie oorleef het nie en my pa my tussen my snikke deur getroos het. Hy het gesê het dat die natuur wreed kan wees maar dat dit ’n feit is wat ons maar altyd moet onthou. Ons moet maar net ons bes doen. Daarna was daar nog altyd hartseer wanneer ons ’n diertjie verloor het, maar ook aanvaarding en berusting dat sulke dinge wel gebeur. Hy het my ook geleer dat mens nie onnodig met die natuur moet inmeng nie en, waar moontlik, dinge aan Moeder Natuur moet oorlaat. 

Ek het baie saam met hom rondgery en dan het ons gaan visvang. My ma het vir ons ‘n heerlike mandjie vol lekkernye gepak – vars, tuisgebakte brood, koue aartappels met hulle skille aan, gekookte eiers, frikkadelle en ’n fles vol heerlike koffie. My pa het die babers wat ons gevang het skoongemaak en in groot ronde ’steaks’ gesny en op die kampvuur gebraai, ’n heerlikheid! 

Albisinidam was een van ons gunstelingplekke. Ons het altyd baie seekoeie daar gesien en kon ek na stories luister van wat hierdie dier so spesiaal en gevaarlik maak soos die feit dat hulle ons waterweë skoon en oop hou en vloei verseker vir al die ander diere. My pa het altyd gesê ’n seekoei in ’n slegte bui is gevaarliker as ’n renoster! Ek onthou nog so goed die storie wat my pa ons vertel het oor hoe hy en sy maats gaan visvang het en een nag bo-op die bakkie se dak moes deurbring a.g.v. ’n onvergenoegde seekoei wat net niks van die kampvuur gehou het nie! 

Langs dié waters het ek my eerste sketse begin doen terwyl ons gesit en visstokke dophou het – my pa het altyd blomme, blare en takke gepluk. Hy het ’n wonderlike kennis van plante en die veld gehad. Ek het al sy stories daaraan verbonde: waarvoor dit gebruik is deur die Pedi’s, vir watter siektes en ongesteldhede, met groot belanbgstelling aangehoor. Dan het ek nota’s gemaak en sketse gedoen. 

Ons het ook insekte opgespoor: sprinkane, miere, skerpioene, motte en spinnekoppe. Dis toe dat ek geleer het om nie bang of grillerig te wees nie, want as jy iets moes vang moes dit VINNIG gebeur, anders is die oomblik verlore!

 
Twee Oranje-geverfde Kremetart-peule langs 'n ou stomp en 'n versameling spoelklippe

Op ons uitstappies het ons altyd halt geroep by kremetartbome en die kremetarte bymekaar gemaak om huistoe te vat. Ons het ook maroelas bymekaar gemaak en haastig in die kar gespring wanneer die bobbejane opdaag om hierdie lekkernye te kom geniet. Ons het vir ure in die kar gesit en lag oor hulle mannewales – die oorryp vrugte wat begin gis het, het ’n alkoholiese uitwerking op hulle gehad en dan het hulle rondgeslinger soos wafferse dronk mense! 

 My Ma het konfyt gekook van die maroelas. Ek het NIKS daarvan gehou nie! Maar ons MOES ’n paar teelepels vol eet, dis goed vir ons het my pa altyd gesê… en om die smaak van die kasterolie, wat ons elke Vrydagaand moes drink, weg te vat. 

Ons het ’n kanariehok gehad in Pietersburg met die pragtigste kanaries – geles, pienkes, rooies (dié kleure is verkry deur iets wat by die drinkwater gevoeg word) en party met wilde haarstyle, vere wat penregop op die kop gestaan het of plat gedruk was soos ’n pannekoek! Een van die dinge wat my pa die meeste ontstel het was die miere! ROOImiere wat teen die hok opgeklim het en die pasgebore voëltjies aangeval en doodgemaak het. Die hok het op stelte gestaan. ’n Boer maak ’n plan – konfytblikke gevul met water onder elke poot en siedaar! Geen mier kon meer die voëltjies bykom nie! 

Ons buite-yskas was ’n houtkas met dubbeldraad, gevul met steenkool en waardeur water permanent gevloei het. Dit het ons eiers, melk, botter en ander eetware perfek koel en vars gehou. Dié yskas het ek en my pa self gebou en dit het my geleer dat NIKS onmoontlik is nie – waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. 

Ons het ook ’n groentetuintjie gehad en ons kon ure daar deurbring – slaaikoppe, kool, wortels, tamaties, groenboontjies, uie, beet en ertjies, selfs ’n paar blommetjies soos Kappertjies en Afrikaners. My pa het geglo dit hou die goggas weg. Hy het my geleer dat gifstowwe onnodig is en dat alle hulpmiddels in die natuur te vinde is. En my ma kon tóór met daardie groente! Tot vandag is groenboontjies met uie en aartappels een van my geliefkoosde disse. 

As iemand my sou vra of ek my lewe sou wou oorhê, sal ek beslis ‘ja’ sê, veral daardie wonderlike dae in die Noord-Transvaal en die dankbaarheid wat ek in my hart voel vir die oorvloed herinneringe wat dit my besorg het.

::

Thursday 21 November 2013

Bloedrooi die aalwyn in winter


Behalwe lente, somer en herfs, is winter een van my gunsteling seisoene! Smaail! Dis die tyd wanneer die bloedrooi aalwyne tuin en landskap versier, wanneer die hemelruim op sy blouste is en die lug kraakvars in jou asem kom sit. Dis ‘n tyd wanneer voëltjies lekker in die oggend sonnetjie bak in die blaarlose takke van die Karee, ‘n tyd wanneer mens heerlik in die son kan sit en skets en koffie drink.

Winter is ‘n tyd van lekker met vriende kuier voor a warm vuurtjie, deur foto-albums blaai en mooi herinneringe oproep. Iets het verlore gegaan in hierdie digitale era wat ons nou beleef. Al my foto’s van die afgelope 10 jaar is op my rekenaar gestoor. Dis nie dieselfde om deur foto’s te blaai op die laptop voor die vuurtjie nie.

Winter is ook tyd vir bietjie stil wees. Selfs die natuur raak stiller, rus bietjie en maak gereed vir die lente wat voorlê. In winter raak ek ook stiller. Neem ‘stock’ van wat gedoen moet word in die tuin oor ‘n maand of so of sit sommer net en lees ‘n boek, snoesig toegedraai in ‘n warm kombers met ‘n heerlike warm sjokolade-drankie byderhand.


En om nie eers te praat van die wonderlike klere vir winter nie! ‘n Mooi warm trui, ‘n pragtige jas, ‘n snoesige serp om die nek en heerlike warm stewels, wie kan vir meer vra?!


::

Wednesday 13 November 2013

Vriendelike Geel





‘n Roos is nie net ‘n roos nie. ‘n Roos is blom met betekenis. Die kleur het betekenis wat dikwels onderskat word. Voordat jy vir iemand rose koop, dink mooi oor hoekom jy die rose wil gee en kies daarvolgens ‘n kleur. Dit gee soveel meer waarde aan die geskenk. Dit is die gedagte wat tel, maar ‘n gedagte wat goed deurdenk is beteken soveel meer.

Geel rose het in Victoriaanse tyd jaloesie bedoel, maar vandag beteken geel “Ek gee om”, maar geel rose word ook soms gegee as simpatie.

Die verskillende kleure waarin rose voorkom, het almal simboliese betekenisse:

geel – vriendskap, platoniese liefde, simpatie
rooi – romantiese liefde
pienk – grasie
donkerpienk – dankbaarheid
ligpienk – bewondering, simpatie
wit – onskuld, geheimsinnigheid
oranje – passie
dieprooi – skoonheid
blou – misterie, betowering

::
 

Vulpenwoorde


In regte vulpenwoorde
op vlaktes wit papier
lê ek gedagtes neer: vertel van nou en hier
soos pienk papaja in my mond, 
rol ek die woorde om en om, 
adres eers in die regterhoek
vir ingeval jy my dalk elders
op ver of vreemde plekke soek
my hand strelend oor die wit
vroegoggend het ek wéér vir ons gebid
en toe dié wit brief, 
seëlgeplak en oerbekend, 
so duifsag in jou palm lê, 
het jy alreeds geweet
wat ek so bittergraag vir jou wou sê? 
want met die oopskeur saam
ruik jy mos my naam
en ou vreugdes tuimel
nogmaals oor jou binnemens
hoe soet proe tog 
dié blywees van ons mooiste wens! 
- Pragtige woorde uit die pen van Elizabeth Kendall© op een van my waterverfskilderye 

::

Saturday 9 November 2013

Wat beplan jy vandag?


Somer is hier en alles vra gelyktydig vir aandag!

Die tuin is dors, Torti (my Bergskilpad) het ontwaak vanuit haar winterslaap en vra om gevoed te word (sy’s nog steeds hier by my nadat ons haar van iemand se pot gered het en elke jaar belowe ek dat, wanneer die somer kom, gaan ek haar vrylaat maar elke winter, as ons al die vreeslike veldbrande beleef, dan word dit weer afgestel…)

Na 2 maande se hibernasie is Torti ook reg om die somer aan te pak. 


Al die hoenders is gelyktydig broeis! Dis ‘n groot job om elke dag eiers weg te vat want nog meer skroppende pootjes in die tuin soek ek definitief nie en dan is dit geduldig wag terwyl elke hennetje, eierloos, haar 19 dae uitsit.

Dis pure plesier om baadjie uit te trek, tekkies te verruil vir sandale en weer ‘n tuinslang in die hande te kry. Al die ou en dooie goed is alreeds afgesny en uitgehaal, beddings is mooi gemaak, paadjies is opgeknap en die tuin soek nou bietjie nuwe plantjies, nuwe geselskap, na maande se rus.


En om nie eers te praat van MYSELF nie, my eie liggaam – my hande voel skurf en verwaarloos, my arms en bene soek bietjie sonskyn (vanjaar is die jaar dat ek ‘n mooi kortbroek aanskaf! Op 66 is daar mos nie meer sprake van omgee wat ander mense dink nie, jy’t mos lankal lief geraak vir jouself en jouself aanvaar nes jy is! As ons maar tog net dit kon leer terwyl ons 20 of 30 of 40 was in plaas van om ‘ droom van ‘perfeksie’ na te jaag…)


So, wat beplan jy vandag? Ek sal êrens buite wees, besig om die son te geniet…

.

.

Tuesday 5 November 2013

Hoekom verskoning maak?


Ek wonder partymaal hoekom mense verskoning maak wanneer hulle vir 'n lang ruk nie geblog het nie. "Oh dear, the old blog has been somewhat neglected over the past few weeks and I need to catch up with what all you bloggers out there are doing too.  Anyone else out there like me and need more hours in the day?"

Ek glo nie eers daar is iemand wat dit agterkom nie. Mens wonder dalk, "wat het van so-en-so geword, lanklaas iets van hulle gelees?" en dan, wanneer hulle weer iets skryf, lees jy dit met lekkerte maar kannie noodwendig onthou dat hulle drie of ses maande laas iets gepubliseer het nie.

Verskoning maak is al so afgesaag. Soos hierbo gesê, "anyone else out there like me and need more hours in the day?" Ek dink nie dis 'n geval van dat mens nie tyd het of meer ure in die dag nodig het nie. Dis net 'n geval van dat mens nie meer so entoesiasties oor die gebloggery is nie.

Wanneer 'n mens 'n nuwe blog begin, is jy begeesterd, met baie idees, foto's en gedagtes wat in jou kop rondmaal en dan is dit lekker om elke dag of 'n paar dae 'n week te blog, maak nie saak HOE besig jy is of hoe min tyd jy het nie, jy maak tyd, jy pas dit in jou skedule in. Maar dalk na twee of drie jaar is jou idees en gedagtes uitgeput, of het jou belangstellings verander, en begin dit al hoe meer na werk lyk en voel jy skuldig dat jy dit so verwaarloos.

So daar is twee opsies - 'dump' die skuldgevoel en blog net wanneer jy lus is, sonder enige verskonings, ek is seker jou lesers sal jou nie stenig nie, óf gooi die handdoek in en moenie meer blog nie. Daar is niks so erg as om iets te doen waarvoor jy nie lus is nie.

.

Saturday 2 November 2013

Vandag voel ek so...


... glad nie lus om uit my gemaksone te klim nie. Vandag voel ek net lus om hier in my gemaklike plekkie te sit, te sit en rus en net alles om my waar te neem.

Vandag was ek veronderstel om te werk. Met werk bedoel ek opvang met al daai uitstaande goedjies wat so 'nag' in die agtergrond - liassering, goeters reg pak, my ateljee wat só deurmekaar is bietjie opknap, die UIF doen, al die e-posse antwoord, nuwe gras in die hoenders se nesbokse sit en dalk ook 'n bietjie in die tuin rond te krap.

Maar hier sit ek nou, besig om te skilder en ook hier op my blog te pos. Dinge te doen waarmee ek gemaklik en gelukkig voel. My pa het twee gesegdes gehad, "Moenie afstel vir môre wat jy vandag kan doen nie" en ook "Môre is nog 'n dag." Vandag voel ek so - môre is nog 'n dag.

::