Sunday 19 January 2014

Elke nuwe oggend


Die woorde hier bo is ou bekendes en tog, elke nuwe oggend IS inderdaad ‘n plek waar ons nog nooit voorheen was nie. Jy maak jou oë oop en het g’n idee wat voorlê nie – oneindige moontlikhede – dalk wen jy die Lotto vandag of kom kuier ‘n geliefde vriendin. Maak nie saak hoe jy jou roetine stel nie – jou eerste koppie koffie, jou afsprake en planne vir die dag – daar is altyd die moontlikheid van iets nuuts, iets fenomenaal, iets verbasend wat kan gebeur.

Ek wens jou 'n pragtige sonneblom-Sondag.

::

Thursday 16 January 2014

Wat beplan jy vandag?


Somer is hier en alles vra gelyktydig vir aandag!

Die tuin is dors, Torti (my Bergskilpad) het ontwaak vanuit haar winterslaap en vra om gevoed te word (sy’s nog steeds hier by my nadat ons haar van iemand se pot gered het en elke jaar belowe ek dat, wanneer die somer kom, gaan ek haar vrylaat maar elke winter, as ons al die vreeslike veldbrande beleef, dan word dit weer afgestel…)

Na 2 maande se hibernasie is Torti ook reg om die somer aan te pak. 


Al die hoenders is gelyktydig broeis! Dis ‘n groot job om elke dag eiers weg te vat want nog meer skroppende pootjes in die tuin soek ek definitief nie en dan is dit geduldig wag terwyl elke hennetje, eierloos, haar 19 dae uitsit.

Dis pure plesier om baadjie uit te trek, tekkies te verruil vir sandale en weer ‘n tuinslang in die hande te kry. Al die ou en dooie goed is alreeds afgesny en uitgehaal, beddings is mooi gemaak, paadjies is opgeknap en die tuin soek nou bietjie nuwe plantjies, nuwe geselskap, na maande se rus.


En om nie eers te praat van MYSELF nie, my eie liggaam – my hande voel skurf en verwaarloos, my arms en bene soek bietjie sonskyn (vanjaar is die jaar dat ek ‘n mooi kortbroek aanskaf! Op amper 68  is daar mos nie meer sprake van omgee wat ander mense dink nie, jy’t mos lankal lief geraak vir jouself en jouself aanvaar nes jy is! As ons maar tog net dit kon leer terwyl ons 20 of 30 of 40 was in plaas van om ‘ droom van ‘perfeksie’ na te jaag…)


So, wat beplan jy vandag? Ek sal êrens buite wees, besig om die son te geniet…

.

Saturday 11 January 2014

Heuning en Laventel haarbehandeling

Daar is nie 'n vrou op aarde wat nie behep is met haar hare nie. Baie min van ons is honderd persent tevrede met wat ons het - ons hare is óf te krullerig óf te reguit óf te dun óf te dik en onbeheerbaar, óf te vaal en so gaan ons aan. En tydskrifte en TV advertensies en die internet is vol van rate en middels wat veronderstel is om te help.

So hoe besluit mens watter raad om te volg of watter middels om te koop? Ek persoonlik dink dat een sjampoe of haaropknapper maar dieselfde is as die ander. So waarom dan nie maar iets uit die natuur probeer nie? Ons voorouers het vir dekades sonder al die fênsy goeters van apteke en supermarkrakke klaar gekom en ek weet daar was NIKS met my ma of my Ouma se hare verkeerd nie!

Hier volg 'n lekker resep vir 'n natuurlike haaropknapper wat ek gereeld gebruik, en dit werk baie goedkoper uit as Tresemmé!


Haaropknapper :

Meng 2 eetlepels heuning met 'n halwe vars avokadopeer, 1 teelepel klapperolie en 'n paar druppels laventel (essential) olie, nie gewone laventelgeursel nie. Masseer in jou hare in en los vir 'n half-uur. Werk uitstekend vir droë en beskadigde hare.

(Foto vanaf 'Yoga Essentials')

Laventel word al byna 2 000 jaar lank vir mediese doeleindes gebruik. Party laventelolies, veral Lavandula angustifolia, het ’n uitwerking op ’n hele paar soorte bakterieë en swamme. Sommige navorsers het aan die hand gedoen dat laventelolie nuttig kan wees vir die behandeling van bakteriese infeksies wat bestand is teen antibiotika.
(Inligting vanaf 'Wagtoring')

.