Tuesday 25 February 2014

Eenvoudige oomblikke


Gewoonlik kan jy die groot, onvergeetlike oomblikke in jou lewe op een hand tel, maar dis die alledaagse, klein eenvoudige dingetjies in ons dag wat die lewe so lekker maak. Soos om 'n heerlike Cappuccino by die Wimpy te sit en drink, sommer so in die middel van die oggend. 

Hulle motto is mos "Enjoy every moment" en om sommer net so te sit en gesels is presies dit. Om elke eenvoudige oomblik te geniet. 



Op pad na die Wimpy...

Ek sê dankie vir alledaagse dinge... 

::

Thursday 20 February 2014

Bly kalm en gesond


Baie van ons sal nie hierdie winter verkoue en griep vryspring, dis juis wanneer die seisoene verander dat daardie lastige verkoue of hoes posvat. Kenners beweer dat heuning antibakteriese kenmerke het wat die bakterieë in die keel beveg.

'n Teelepel rou heuning voor slaaptyd laat jou rustiger slaap en verlig ook hoes. Jy kan ook 'n teelepel heuning met louwarm water meng en dit voor slaaptyd drink.


'n Kombinasie van heuning en suurlemoen vir die verligting van hoes was ook nog altyd gewild. Meng 'n halwe teelepel heuning met die sap van 'n vars suurlemoen en drink voor jy gaan slaap. Jy kan die mengsel ook bietjie verhit voor jy dit drink. Drink elke vier ure twee teelepels van die mengsel. Dit beveg ook keel irritasie.


Deesdae is dit taamlike 'n uitdaging om die spasie en tyd te vind om te ontspan. Hoe balanseer mens die uitdagings van ons alledaagse lewe?

(Foto en resep vanaf Everything Lavender)

'n Koppie tee kalmeer en verlig altyd. Laventeltee is 'n ideale ontspanningsmiddel en maklik om te maak.

Jy kan vars blomme pluk of gedroogde laventel gebruik.

3 Eetlepels vars laventelblomme of 1½ eetlepels droë laventelblomme
2 Eetlepels heuning (met suurlemoen indien verlang)

Om die tee te maak, gooi die blomme in 'n teepot en gooi in kookwater. Roer die heuning by. Laat trek vir 4 of 5 minute. Gebruik 'n teesiffie en bedien in pragtige tee koppies!

.

Tuesday 4 February 2014

My eie stukkie paradys


Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is...

Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.

 Jy sou lag as jy dit moet sien, dis gladnie 'n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis 'n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. 'n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou. 

Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie. 

Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter.

Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek... 



::

Saturday 1 February 2014

'n Wit vel papier...



::

‘n wit vel papier . ‘n nuwe sketsboek . wat sal ek doen

droom / sing / skryf / wag / dink / tuinmaak / gesels / skilder

ek het besluit om te skilder

::