Friday 28 March 2014

Om vriende te kweek


Is jy lief vir tuinmaak? Is jy lief vir jou vriende? Die twee is baie dieselfde. Albei is kosbaar vir ons, albei vat toewyding, tyd, liefde, aandag en baie werk.

Sonder om tyd in jou tuin te spandeer sal jy dit eerstens nie kan geniet nie en tweedens sal jy dit nie leer ken nie. Elke plantjie vertel ‘n storie, of dit gelukkig is, of dit genoeg water en kos kry, of dit genoeg aandag en liefde kry. Hoeveel werk jy in jou tuin insit is sigbaar in hoe goed jou plante blom, hoe sterk hulle is om dit deur die winter te maak en hoe hulle groei, seisoen na seisoen.

Dieselfde is waar omtrent ons vriende. As ons nie aan ons verhoudings werk nie, nie genoeg tyd saam met ons vriende deurbring nie, sal die vriendskap daaronder ly. Liefde en aandag in ons verhoudings met ons vriende is belangrik, dit hou die vriendskap sterk. Vriende help ons om te groei, om onsself beter te leer ken en ondersteun ons in moeilike tye, die “winter” van die lewe.

So, nes met die blomme in jou tuin, kies jou vriende reg! Hul koester jou drome en werk sag met jou hart.

.

Monday 10 March 2014

Ek wil julle graag voorstel aan Jacko


"Jacko" potloodskets en waterverf in my Moleskine waterverf sketsboek

Ek wil julle graag voorstel aan Jacko, my Fox Terrier x Jack Russell, wat nie weet dat hy 'n hond is nie. Hy eet wat ons eet, gaan waar ons gaan en as hy nie kan gaan nie, gaan ons nie. Hy het 'n sekere 'air' omtrent homself en waar ookal ons gaan, stop die mense om met hom te praat en hy vergoed almal met die hartlikste verwelkoming, veral kinders, oor wie hy absoluut mal is.

Hy was Oktober 2013 7 jaar oud en met sy aankoms hier was hy omtrent 4 weke oud - so klein ek het hom oral in my sak of handsak rondgedra, toe 'n mandjie en daarna in die trollie as ons winkelsentrum toe gaan. Van kleins af al het hy sy harnas gaan haal as hy weet ons maak gereed om uit te gaan, en sodra hy dit aan het, tel hy die leisel op met sy mond en staan en wag geduldig tot ons gereed is. Sy groot voorliefde is om by die motor se venster uit te hang en alles te bekyk.

Sy gunsteling plek is Mirjam's Restourant & Pub in Magaliesburg, want dis een van die min plekke waar ek sy leisel afhaal en hy vrylik kan rondsnuffel. En as ons die dag verby Mirjam's ry op pad êrens anders heen, dan is dit 'n geblaf en 'n gesmeek vir ons om terug te draai!

 Jacko 6 weke oud

Of dit nou reg of verkeerd is weet ek nie, maar 'n mens raak so versog op jou troeteldiere dat, die dag wanneer hul lewens tot 'n einde kom, voel dit of jy 'n lewensmaat verloor het. En as 'n buitestander van so 'n gebeurtenis, kan 'n mens maar net jou kop skud en jou verbaas aan mense se reaksies tot dit die dag met jou gebeur. 




Thursday 6 March 2014

Luister na die lied van die natuur

'n Paar woorde in een van my Natuur-Joernale... 

Om 'n Natuur-joernaal aan te hou is een van die groot vreugdes in my lewe. Hier bewaar ek herinneringe uit my tuin en die natuur, maak ek notas van belangrike dinge en gebeurtenisse en gee ek vrye teuels aan my gedagtes en verbeelding. Mooi natuur-gedigte word hier vasgeplak tesame met sketse, mooi prentjies en drome. 

:: 

Luister na die geluid van reëndruppels op ‘n sinkdak 
Die lied van paddas wat saamsing in ‘n koor 
Luister hoe die wind ‘n boom laat kreun en kraak 
Dis die lied van die natuur wat jy daar hoor

Daar is musiek oral om ons heen
En al wat jy moet doen is om te luister
Somtyds die ore spits
Want baiemaal is die liedjie net ‘n fluister
Soos ‘n bries wat speel oor ‘n koringland
‘n Kriekekoor op ‘n warm someraand
Luister laat die geluide jou bekoor
Want dis die lied van die natuur wat jy daar hoor

Aan die punt van die vallei hoog in die berge 
Woon daar ‘n eggo alleen in ‘n klipspelonk 
Elke liedjie wat hy hoor sal hy uitkoggel 
Hy doen dit meesterlik vanuit sy tronk 
Gesing deur : Laurika Rauch. Woorde en Musiek: Johan Wessels (Kupido) 

::