Saturday 21 June 2014

Saterdaggedagtes


'n Yskou Saterdagoggend hier in Tarlton (Gauteng, Suid Afrika) en vandag...

wil ek graag 'n mooi gedig of boek lees
wil ek graag 'n mooi prentjie sien
wil ek graag inspirerende musiek luister
wil ek graag iemand merkwaardig ontmoet
wil ek graag 'n paar verstandige woorde sê

en

wil ek graag my motorhuis regpak

::

Tuesday 17 June 2014

Lied van die natuur

'n Paar woorde in een van my Natuur-Joernale... 

Om 'n Natuur-joernaal aan te hou is een van die groot vreugdes in my lewe. Hier bewaar ek herinneringe uit my tuin en die natuur, maak ek notas van belangrike dinge en gebeurtenisse en gee ek vrye teuels aan my gedagtes en verbeelding. Mooi natuur-gedigte word hier vasgeplak tesame met sketse, mooi prentjies en drome. 

:: 

Luister na die geluid van reëndruppels op ‘n sinkdak 
Die lied van paddas wat saamsing in ‘n koor 
Luister hoe die wind ‘n boom laat kreun en kraak 
Dis die lied van die natuur wat jy daar hoor

Daar is musiek oral om ons heen
En al wat jy moet doen is om te luister
Somtyds die ore spits
Want baiemaal is die liedjie net ‘n fluister
Soos ‘n bries wat speel oor ‘n koringland
‘n Kriekekoor op ‘n warm someraand
Luister laat die geluide jou bekoor
Want dis die lied van die natuur wat jy daar hoor

Aan die punt van die vallei hoog in die berge 
Woon daar ‘n eggo alleen in ‘n klipspelonk 
Elke liedjie wat hy hoor sal hy uitkoggel 
Hy doen dit meesterlik vanuit sy tronk 
Gesing deur : Laurika Rauch. Woorde en Musiek: Johan Wessels (Kupido) 

::



 .

Saturday 14 June 2014

Laventel kerse in ou teekoppies


Antieke teekoppies wat hul pierings verloor het, kan oulike geskenkies maak as hulle in kershouers verander word - Ek het op hierdie oulike idee by Everything Fabulous afgekom - gaan na hulle webwerf om al die foto's te sien van hoe om dit te doen, dit lyk vreeslik maklik!

Wat jy nodig het:

- Gompistool
- Kerstermometer (of gebruik die tipe wat ’n mens gebruik wanneer jy suiker smelt vir lekkergoed)
- Draadpit met waks om, en ’n knippie/plaatjie
- Roomwaks of gebreekte ou kerse
- Knippe waarmee jy sakkies verseël, of bamboesstokkies
- Geursel vir kerse (laventel essential olie, nie die geur-tipe nie)
- Antieke teekoppies (of enige ander houer waarvan jy hou, selfs ou bottels kan gebruik word)
- Dubbelkoker (die belangrike ding is dat die water nie aan die glashouer moet raak nie)

1. Gooi water in die dubbelkoker, sny die waks in stukke en plaas dit binne-in die houer. Haak die termometer aan. Draai die plaat op hoë hitte.

2. Gebruik die gompistool om die draadkern-kerspitknippie onder in die houers wat jy gebruik, vas te gom.


3. Laat die kerspit van ‘n stokkie afhang sodat dit mooi reguit is. Jy kan ook 'n knippie waarmee sakke verseël word, gebruik om die kerspit vas te knyp. Dit moet net lank genoeg wees.

4. As die waks eers gesmelt het en tot omtrent 83°C verhit is, verwyder van die hitte en voeg kleur by. Wag tot dit tot 80°C afkoel om geursel by te voeg.

5. Giet die waks in elke houer en maak seker dat die kerspit op sy plek bly. Gaan die houers gereeld oor die volgende halfuur of so na om seker te maak die kerspitte skuif nie.

En voilà!


::

Saturday 7 June 2014

Winter - Hoor die blomme en die blare...


'Hoor die blomme en die blare 
bewend van die winter praat, 
doodgedoemde martelare, 
siek en van die son verlaat. 
O, bly by my, beminde teer, 
dan bloei in my die somerblomme weer.' 
- Onbekend 

'n Brawe veldblommetjie op ons kleinhoewe. Selfs die ysige paar dae wat ons nou ondervind kannie die lewenslus van hierdie pragtige blommetjies demp nie! 

::