Monday, 20 April 2015

Is jy in 'n boks?


Is dit nie snaaks hoe mense mekaar in 'bokse' sit nie? Mens hoor byvoorbeeld gereeld ouers wat sê, "Jannie is die kreatiewe een" of "sy was nog altyd die stroom-op een" of "Sarie is die slim een in ons huis" of "Boet was nog nooit goed met somme maak nie". Een of twee of drie gebeurtenisse van dieselfde patroon en daar's jy, in jou boks! Met wat jy sê en doen elke dag krap jy gou vir jou 'n nissie in die wêreld uit.

En dis 'n goeie ding. Ons almal het 'n identiteit nodig. Solank mense net nie die boks se deksel toemaak en verwag dat jy vir altyd die kreatiewe een, of die stroom-op een of die slim een of die dom een moet bly nie. Solank hulle aanneem dat jy gaan groei en dat, eendag, jy uit die boks gaan klim.

Jare terug, in die 1970's en 80's het ons perde besit. Dit was my passie en ek het behoorlike perde geëet, gedroom en geslaap. Elke spaar oomblik was ek by my perd; gery, geoefen, hom afgeborsel, stalle skoon gemaak, saal en toom versorg, 'n ryskool begin, perde-skoue bygewoon en 'n uithaler dressuur-ryer geword (dressage) en selfs vir 'n paar jaar aan uithouritte (endurance) deel geneem - 'n mens doen 'n 30km rit met jou perd, rus vir 'n half-uur waarna jou perd se pols en hartklop nagegaan word, doen nog 'n 30km, rus vir 20 minute en weer word die perd getoets en dan 'n finale rit van 20km waarna die wenners met die kortste tyd aangewys word. Ek het dosyne sertifikate, rosette en bekers.

Een van my Uithourittrofees

Ek het 4uur in die oggende opgestaan om perde in die perde-treiler te laai om na kompetisies te gaan en hulle voor te berei vir die skou - maanhare wat gevleg moes word, stert wat geborsel en toegedraai moes word en hy moes geborsel word totdat hy soos 'n diamant geblink het. Yattendon (hy was my C-graad springperd) was 'n jong, warm-bloedige springperd wat al hierdie aandag en opwinding vreeslik geniet het maar tog altyd fluks, maar kalm, aan die kompetisies deelgeneem het.

Elke naweek het ons die pad gekies met die perde, veld toe, vir myle net geloop en gesels of wildweg deur die gras ge-galop en dan in die dam gaan swem om af te koel. By die huis is al die perde toegelaat om bietjie in die sandpit te rol om van al die sweet onslae te raak, geborsel, in die stalle gesit en gevoer. 'n Sagte gevroetel in my nek as afskeidsgroet deur Yattendon was altyd die hoogtepunt van die dag!

In 1987 het ons lewensstyl drasties verander toe ons 'n Supermark in Magaliesburg aangeskaf het - werksure van half sewe in die oggend tot 10uur in die aand, 7 dae 'n week, het min tyd vir die perde oorgelaat en en in 1988 het ons, baie hartseer, van al die perde afskeid geneem.

Yattendon en Little Mare met haar vulletjie

Maar ek dwaal af, terug na die boks. So ja, my boks in daardie jare was 'daai perde-vrou'. En alhoewel ek wel tussen-in geskilder het, tuin gemaak het en diere aangehou het, was my boks die perde-ding.

Onlangs loop ek iemand raak van 'daardie leeftyd' en die eerste ding wat sy my vra is, "Hoe gaan dit met die perde?" Op my antwoord dat ons l-a-n-k-a--l nie meer perde het nie, was haar geskokte reaksie, "Haai vrou, wat DOEN jy dan nou met jouself?! Sonder perde? Ek glo dit nie!" En maak nie saak wat ek haar vertel het omtrent wat aangaan in my (vol) lewe nie, het sy steeds geskok omtent die perde aangegaan.

Maar gou het ek haar reaksie verstaan - op my navraag omtrent hoe dit met almal gaan, was dit dieselfde ou storie van Henk wat te veel drink, te veel flankeer, alweer sy werk verloor het, haar haat vir haar skoonma en al die dinge waarna ek in daardie jare moes luister. Ek het omtrent al vergeet van al daai dinge, (haar nie in 'n boks geplaas nie) en gedink ek gaan 'n wonderlike storie van verandering hoor. Maar dit was nie so nie. So miskien dra daai boks tog gewig....

Vandag is my boks kunstenaar, natuurliefhebber, tuinier, hoenderliefhebber, Ouma, koffieliefhebber, besigheidsvrou, blogger en versamelaar van enige iets vanaf kristalle tot bokdrolletjies, maar wie weet wat dit môre gaan wees...

Wat is jou boks....?

.

No comments:

Post a Comment