Friday, 24 April 2015

Leë hande, vol hart


Al die goed wat ons opgaar. Jy weet waarvan ek praat. Kaste en kaste en stoorkamers vol goed.

Dis nou al 'n jaar of twee wat ek en my man daaraan dink om "af te tree". Nie in aftree soos om aftree-oord toe te gaan nie, of om die laaste paar jare (30 of so!) op die stoep te sit en tee drink nie, maar "aftree" van die besigheid, "aftree" van die plot, dit te verkoop, en 'n nuwe rigting in te slaan.


Ons is nou in die "derde" fase van ons lewe. Ek beskou die eerste fase as skoolgaan, die tweede fase 'n mens se "werkende" lewe en die derde fase wanneer mens kan terug sit, jou lewe in oënskou neem en besluit wat dit is wat jy regtig wil doen met die res van jou jare wat oor is.


Vir amper veertig jaar bly ons nou al hier op ons stukkie Afrika-hemel, 'n 10ha plot, na aan die natuur, waarvandaan ons ons besigheid bedryf, na ons diere omsien, daaglikse stappies in die veld geniet met my kamera en my sketsboek en sommer maar net die lief en leed met almal om ons deel. Vir veertig jaar was die omgewing goed vir ons, het vir ons daaglikse brood en nog veel meer gesorg, gelukkige dae, gelukkige jare.

Maar nou het ek besluit dat ek wil trek! Ek wil na my dogter toe gaan, naby my kleinkinders wees, by die see. My man sê hy kan Die Oog oorweeg, in die bosveld, maar ek wil kinders toe. Ek sien SO baie ouers wat SO ver van hul kinders is; hulle is die hele land vol en ver oorsee versprei en dis nie reg nie. Prof. Bleloch se kinders is in Amerika, Lynda Smith se kinders is in Australië, Liz se een kind is in Kaapstad, my suster se dogter is in Australië, Dr. Levinson se kinders is ook almal in Amerika en toe sy vrou ’n paar maande oorlede is (diep in die tagtigs was die twee) het hy net ’n paar maande gehou voor hy ook verlede week weg is. En nog vele ander wat ek ken.

Maar een ding kan ek jou vertel - ek is nie die tipe mens wat op my kind se nek kan gaan lê nie, of versorg wil word deur my kind nie. Onafhanklikheid is vir my baie belangrik en ek het nog te veel dinge om te doen voor ek gaan lê en sê ek is gedaan.


Dis nou waar al die goed inkom. Gedurende al daai jare maak mens goed bymekaar. Baie goed. Nie net in die huis nie, maar in kaste, en in stoorkamers. Goed waaraan mens geheg is, goed wat jy nie sommer net kan weggooi nie. Of wil weggooi nie. Hoe op aarde kan mens so geheg raak aan aardse goed? Baie van dit sommer net onnodig, ekstra stoele, wasbakke, wasmasjiene wat nie meer werk nie, ou toilet deksels.


En hoe trek jy moet so baie "goed"? Net die gedagte van skoonmaak, oppak en trek is genoeg om my in my spore te laat vassteek. Maar die tyd het gekom om skoon te maak en met leë hande en 'n vol hart 'n nuwe rigting in te slaan. Die ding is nou net om die plot verkoop te kry – ek kan selfs net 'n paar belangrike goedjies oppak en waai en die hele kaboedel net so vir ’n auctioneer gee dit hy alles opveil. Ek wil die laaste jare saam met my kinders geniet, deel wees van hulle lewe, nuwe dinge beleef en baie herinneringe saam met my neem wanneer ek uiteindelik hierdie wêreld verlaat.

.

No comments:

Post a Comment