Tuesday 25 August 2015

Vandag is die dag!


Vandag is die dag dat ek kan huppel en spring, sing en hande klap - my jaar-einde boeke is UITEINDELIK op datum! Halleluja! Julle het geen idee hoe ek liasseerwerk haat nie, haat met 'n passie wat oorweldigend op die krop van my maag sit soos 'n maag sweer. En wat lei tot die uitstel van die boeke-doen-ding, is omdat al die liasseerwerk nie op datum is nie.

Ek stel altyd vir myself 'n doel of datum om dit makliker te maak, maar so ver moontlik in die toekoms sodat ek kans het om aan te pas - ek sal dit begin op die 1st van so-en-so maand en dit sal die EERSTE ding wees wat ek doen voordat ek by die komper gaan sit, ens. ens.

Kom dit eerste van daai maand, is dit (gelukkig!) op 'n Saterdag of 'n Sondag - nou ja, dan kan ek mos maar Maandag begin. Maandae is 'n slegte idee - van die personeel daag nie op nie of daar's 'n krisis van een of ander aard, so dis nie my skuld nie, ek sal dit môre doen...

En ons ken almal die gesegde van "moenie afstel vir môre wat jy vandag kan doen nie", en "van uitstel kom afstel". Wel, sover dit liasseerwerk aangaan, is dit die storie van my lewe...

.

Wednesday 5 August 2015

Bruin skakerings kraak ondervoet


akkerblare konfetti neer
bruin skakerings kraak ondervoet
hemelhoë takke
gryp vergeefs na somer
wat wegtuimel:
arms strek dan uit
na wye herfskoepel
en gee oor aan winterskoonheid
in gestrooptheid -
wag statig
op klein, varsgroen ogies
wat
van lente gaan sing
- Uysie Alberts ©

.