Thursday, 29 October 2015

Hoe leef jy - elke dag?


Ons weet almal van “leef elke dag asof dit jou laaste is” en dit op sigself is moeilik genoeg. Hoe sê hulle, “life happens”. Ons is gejaagd, dinge moet gedoen word, en baie gou is ons hele lewe, en huis, bietjie deurmekaar.

Maar nou, ek het hierdie vriendin wat vir my sê sy leef elke dag asof kuiergaste kom! Dinge moet altyd mooi reg gepak wees, skoon en afgestof wees, daar moet altyd blomme op die tafel wees, vars gebakte koekies in die blikke en vars brood om te bedien. Hoeveel ure het sy in die dag wat ek nie het nie?!

Dit neem al my tyd en energie in beslag om te sien dat daar nie TE veel stof is nie, dat die kaste darem so elke nou en dan bietjie reg gepak word, dat die tafels en kaste nie oorgeneem word deur dinge wat mens sommer net neersit nie, dat daar darem kos in die yskas is en dat die stoorkamer darem netjies is. EN ek het huishulp en geen kinders in die huis nie!

Want daar is ander dinge in die lewe wat gebeur - soos skilder, tuinwerk, boeke om te lees, diere om na om te sien, blogs wat geskryf en gelees moet word, en kantoorwerk wat gedoen moet word. Hoe op aarde bly mens by met alles?

En tog doen ons dit. Want ons weet dat, 99% van die tyd gaan vandag NIE ons laaste dag wees nie en 99% van die tyd gaan daar NIE kuiergaste opdaag nie. En as die laaste dag van my lewe of ’n onverwagse kuiergas my vang met ’n deurmekaar huis of liasseerwerk wat nog nie gedoen is nie of stof op die tafel, so be it. Ek weet ek het elke dag ten volle geniet en benut en dit wat oorbly, moet maar wag tot ’n volgende keer.

3 comments:

  1. Ag dis lekker, ek love jou skryfwerk want dis presies net hoe ek voel! Die ergste vir my is daardie oppervlakke waar die goed (wat nie daar moet wees nie) neergesit word, rondgeskuif word, aangegluur word, want dit is die klein tydrowertjies! Mens is later so vies daarvoor jys lus en gooi die hele spul in die asblik.... die naelknippertjie, Isabella se haar rekkie, Spar se laaste strokie, n ou Landbouweekblad of twee, strokie uit die Linctagon boksie......... en so kan ek aan en aan en aanhou. Tot .... op n dag,... wat ek eintlik wou skilder, dan waai alles in verskillende rigtings, en as ek later pootuit neerval op die stoel voel dit asof ek niks vir die dag gedoen het nie, nie eers aan n kwas geraak nie. Klotter, dis wat dit is, klotter!

    ReplyDelete
  2. I'm not sure what this even says, I can't read it, but the picture is hilarious.

    ReplyDelete