Tuesday 27 September 2016

Lente en Aalwyne

Dis nou vir jou 'n ding! Ek het 'n paar navrae gehad om hierdie blog lewendig te hou! Baie mense het gesê hulle hou nie van WordPress nie, is nie daar geregistreer nie, so kan nie juis kommentaar lewer nie. Ek het ook na gister se Blogger statistieke gekyk (wat effens verskil van Google Analytics) en gister het 114 mense hierdie blog besoek. So hier's ek nou weer en ons sal sommer afskop met lente. Maar Blogger is nog steeds vol snert, elke nuwe pos kom dubbel uit met een as 'n "draft", wat mens dan moet uithaal. Ai.

 "Aalwyn" potloodskets en waterverf in my Tuin-joernaal - Maree (Aloe ferox) Bitter Aalwyn 

Hierdie Lente is/was definitief 'n bietjie snaaks. nes ek gedink het dis nou lekker warm, toe tref erge koue ons weer. Maar die Aalwyne het pragtig geblom hierdie winter, en elke winter stel hulle my nooit teleur nie met hulle pragtige blomme wat hou tot diep in die lente. Hulle is waarlik 'n lewens-redder vir al die voëls na die dorre winter, veral die Swart Suikerbekkie (Black Sunbird of, die nuwe naam, Amethyst Sunbird)), wat vroeg-winter al van die heerlike nektar gebruik maak. Ek het hierdie skets van een van my aalwyne  in my Tuin-joernaal gedoen nadat ek opgemerk het hoe die bye ook om die blomme saamdrom om te drink. Die plant verskaf die meeste nektar na einde-winter se kant toe.

Vroeg-winter en die aalwyne begin net blom

Middel-winter en almal is in volle blom

Einde-winter en die blomme is vet en vol nektar

Lente en die Aalwyne is nou vol saad, 'n ware bewys dat lente uiteindelik hier is!

::

.

Friday 9 September 2016

My plekkie en my omgewing

Ek woon in Tarlton, Gauteng, aan die grens van die Noord-Wes Provinsie in Suid Afrika, op 'n 8,5ha kleinhoewe, waar die natuur meeste van my sketse inspireer.

HIER IS MY PLEKKIE

Uitsig vanaf die tuin na die voordeur deur die Halleria lucida (Boom Fushcia) 

Voordeur vanaf onder die Karees 

DIE OMGEWING TARLTON is geleë half-pad tussen Krugersdorp en Magaliesburg, grensende aan die 'Cradle of Humankind' (Wieg van die Mensdom) wat 'n 'World Heritage Site' verklaar is deur UNESCO in 1999, en is 50km Noord-Wes geleë vanaf Johannesburg in Suid-Afrika se Gauteng-provinsie.

Die gebied beslaan 474 vierkante-myl en bevat 'n komplekse reeks grotte, insluitende Sterkfontein-grotte, waar die 2.3-miljoen jaar oue fossiel Australopithecus africanus ("Mrs. Ples") gevind was in 1947 deur Dr. Robert Broom en John Robinson. 


Die ondergrondse meer diep in die Sterkfontein-grotte, en wat die oorsprong van die Magaliesrivier is wat 15km verder by 'n oog in Maloney's Eye (sowat 5km vanaf Magaliesburg) uit die grond uitborrel.

Om en by 5km van ons af, is Maropeng, met 2500m² se uitstallings van fossiele en klip-gereedskap miljoene jaar oud, met 'n ondergrondse bootrit deur gange van soliede ys en voorstellings van vulkane en Antarktieka, restaurant, koffie-winkel en curio winkel. Maropeng bedoel "om terug te keer na die plek van oorsprong" in Setswana.

Maropeng van agter gesien 

Bootrit deur ondergrondse ys-tonnels

Een van die gange in Maropeng 

Nog een van die gange - Evolusie van die Mens

Omtrent 10km vanaf ons geleë is die 1400-hektaar Krugersdorp Wildtuin, met Wit Renosters, Buffels, Kameelperde, Seekoeie, Swart Wildebeest, Zebras en vele bokspesies, insluitende die raar Sable Antelope, Tsessebe, Elande, Waterbokke, Koedoes, Oryx, Rooi Hartebeeste, Blesbokke, Springbokke en Impala, met 'n spesiale 100ha afgekampte Leeu area in die middel van die wildtuin (waar die eienaar, Dirk Brink, so twee jaar gelede deur 'n trop leeus aangeval en verskeur is). Die wildtuin spog met die uitstekende Ngonyama Restaurant en offer ook ware Afrika verblyf.

Ingang na die Krugersdorp Wildtuin

 
'n Dam in die wildtuin waar ek al menigmaal skilpaaie of ander diertjies en voëls vrylaat.


Skuins oorkant ons plot is die welbekende Tarlton International Raceway, waar 'dragsters' die kwart-myl rekords verbreek en dorstiglik brandstof en buitebande verbrand!

Ons is ook omring deur vele volstruis-plase, vee-, groente- en blomplase, verskeie besighede, B & B's en bloekombome, wat aangeplant is vanuit Australia vir die gebruik van houtpale en -stutte in die vele myne in die omgewing.

Rustenburg is 'n uur se bestuur vanaf ons, Hartebeespoort Dam is so 40-minute ver en die 'Magalies Meander' strek vanaf Tarlton, deur Magaliesburg en deur Hekpoort, Vlakdrif, Maanhaarrand, Skeerpoort en tot by Hartebeeshoek, naby Broederstroom.


'n Pragtige gedeelte van Gauteng om woonagtig te wees!


.