Sunday, 9 April 2017

'n Plan B


Ek sit nou hier en dink aan die verganklikheid van die lewe - en die ouderdom. Dis nog nooit juis iets waaraan ek aandag gegee het nie. Mens word ouer, jy kan minder doen, jou vel is meer verrimpeld (en nog meer!), en daar is ’n paar skete en pyne. Gelukkig is ek nog vol energie, het goeie gesondheid (was laas in die hospitaal met die geboorte van my dogter 47 jaar terug) en my brein is nog so skerp soos ’n naald. My geheue ook.

Waaroor dit nou eintlik gaan is die feit dat ek artritis ontwikkel het in my duime. Ek sukkel om ’n speld van die lessenaar af op te tel en het so nou en dan pyn, veral in die winter. En daar’s swelsel. En ’n knopperige been wat ek net bokant elke duim kan voel. Andersins is daar nie probleme met my hande (of duime nie), ek kan nog goed soos bottels en allerhande dinge perfek hanteer en optel (oopmaak is nie meer so maklik nie en aartappels skil is baie moeilik) en ek kan nog my verfkwas en potlood vashou. En ek kan nog (vinnig) tik op my rekenaar se sleutelbord. Dit verg min duim-verbruik.

Nou hier’s die ding - wat gebeur die dag as ek nie meer my verfkwas kan vashou nie? As ek nie meer kan teken of skilder nie? As ek nie meer in my Joernale kan skryf nie? Dis waaruit my lewe bestaan - skilder. En tuinmaak. En herinneringe neerskryf. En wat gebeur die dag as ek nie meer daai dinge kan doen nie? Dis mos dan nou tyd om vooruit te dink en te besluit wat ek gaan doen indien so iets gebeur.

Nou, my pa het altyd gesê, moenie die bobbejaan agter die berg gaan haal nie. Maar my geaardheid neig bietjie na vooruit beplan, bietjie van ’n “control freak”, alles het ’n plek en alles moet reg wees. Daar’s altyd ’n plan B ingeval dinge bietjie verkeerd loop. En wat ek nodig het is ’n plan B.

Maar voor ons by Plan B uitkom, eerste van alles, ek glo in die doktrine van Louise Hay, dat al ons siektes en skete vanaf ons gedagte-patroon afkomstig is. En in haar boek “Heal Your Body with your Mind” is die oorsaak van artritis in ledemate as volg : “Arthritis in joints represents changes in direction in life and the ease of these movements.” Reg. Dit verstaan ek. Ons is nou op die ouderdom (ek is hierdie jaar 71) waar ons afgetree het en in die proses is om ons plot, waar ons al 42 jaar woonagtig is, te verkoop en kus toe te verhuis. Dis ’n groot verandering. Daar’s gedagtes van my tuin, al my diere, my hoenders, te veel goed in ’n groot 3-slaapkamer huis om saam te neem en wat van alles gaan word.

Die nuwe gedagte-patroon om aan te leer, volgens Louise, is, “I easily flow with change. My life is Divinely guided and I am always going in the best direction.” Lees weer, “Best direction”, nie “right direction” nie. My pa het ook altyd gesê, alles gebeur vir die beste. Mens kan nooit sê watter besluit is reg of verkeerd nie, dis net ’n besluit, maar wat jy met die besluit doen is wat belangrik is. En nou die dag het ek ook afgekom op hierdie pragtige gesegde : ♥ “I am not sad because it is over, I am smiling because it happened.”





Al my herinneringe is veilig, ek sal vir ewig dankbaar wees vir die lewe wat ek hier gehad het, die diere wat ek lief gehad het en wat vir my lief was, al die ondervindings en al die lief en leed. So, van hier af beweeg ek met gemak vorentoe in die beste rigting wat ek kan. En koebaai artritis.

Nou vir Plan B. Sonder artritis gaan ek nog verf en skilder en teken en skryf totdat ek ’n honderd jaar oud is. Ek gaan nog nuwe saadjies saai en plantjies in ’n stukkie grond plant, al is dit net in ’n potjie of twee. Ek gaan kaalvoet op die strand loop en skulpe optel, ek gaan saam met my dogter en kleinkinders rond kerjakker en nuwe dinge sien, nuwe dinge leer en nuwe dinge doen. En dit alles met ’n dankbare gevoel vir dit wat ek nog het wat perfek is.


Saturday, 14 January 2017

Om ‘n tuin te plant is om te glo daar is ‘n môre…


 …Blomme laat hul geur na op die hand wat hulle kos gee!


… en my tuin glo definitief daar is ‘n môre! Alles wat groei het nou klaar saad geskiet; die Kappertjies, albei die Wit en Swart Karee's, die Chondropetalum tectorum (large Cape Rush, een van die Restios) en selfs van die kaktusse – soos die blommetjies van die Rattail-kaktus wat naderhand kwyn en in ‘n saadjie verander en deur die wind in die tuin versprei word.

  Rattail-kaktus in volle blom

  Chondropetalum tectorum

Desember en Januarie, met hul lang sonnige dae, word beskou as midsomer. Dit is wanneer die laaste vroeg somerskleur van beddingplante, jaarplante, struike en rankplante wyk voor die geharde helderkleurige somerblomme en loofplante wat die hitte kan weerstaan en die tuin tot in die herfs kan deursien.


Daar is altyd baie tuinwerk – swaar reëns in ons somermaande kan grond wegspoel of laat vaspak so nou is die tyd om dit liggies met ‘n vurk los te maak en te bedek met ‘n los deklaag.

Die beddings is mooi reg gemaak en kompos bygevoeg 

Februarie is die tyd wanneer ek kyk of daar muskiete in die dam, tussen die Varings, ander grootblaar plante en die hoenderhok is. ‘n Paar druppeltjies paraffien of olie tussen die plante sal hulle weghou en niks aan die plante doen nie. Vir die hoenderhok spuit ek ‘n eko-vriendelike muskietdoder.


Om van muskiete in my dammetjie ontslae te raak is ‘n ander saak. Ek kan nie paraffien of diesel gebruik nie, want ek het baie insekte soos Waterskerpioene, Naaldekokers en Waterkewers wat sal omkom as ek die water op hierdie manier behandel. So al genade is om ‘n paar maal ‘n jaar die hele dam leeg te maak, te skrop en vol te maak met vars water. Alle paddas word gevang, in emmers geplaas en later weer terug gesit. Ongelukkig word baie van die Waterskerpioene en -kewers ook uitgespoel, maar vind gewoonlik hul pad weer terug water toe. Die Naaldekoker-nimf is ook darem behulpsaam om die muskietplaag onder beheer te hou.

Geniet jou herfs en winter tuin-takies, maar moenie vergeet om jou tuin te geniet nie!

.

Monday, 9 January 2017

'n Eko-vriendelike tuin


Wanneer laas kon jy ‘n skoenlapper se pragtige kleure bewonder? Of 'n by waar hy naarstigtelik besig is om stuifmeel bymekaar te maak? Lanklaas? Waarskynlik, want deesdae word alles mos bespuit met al wat gif is. Selfs heuningbye word bedreig.

Help 'n by in nood!
Waarvan ons en ons nageslag gaan lewe as heuningbye en skoenlappers van die aarde af verdwyn, is ‘n ope vraag. Naas water en suurstof, is bye en skoenlappers onmisbaar vir oorlewing, want daar is niks wat die bestuiwingsfunksie so kan vervul nie, en niemand kan daardie funksie by hulle oorneem nie. Die goeie nuus is dat ons kan tuinmaak om skoenlappers en bye te lok. Omdat die huidige habitats en voedselbronne minder word, moet ons bestaande bye-vriendelike plante beskerm en in stand hou deur meer bye-vriendelike plante aan te plant.


Hoewel bloekombome indringers kan wees, is hulle baie belangrik as 'n voedselbron vir ons inheemse bye. Die doel is om, deur goeie bestuur, bloekombome te behou as voedselbron vir ons bye.

Grondeienaars moet die spesies en ligging van bloekombome op hul plase identifiseer. Dié sonder bloekombome kan dit oorweeg om sekere nie-genoteerde spesies (bv.E. ficifolia of E. gomphocephala) te plant waar hulle nie waterbronne bedreig of 'n indringingsgevaar stel nie. In ‘n eko-vriendelike tuin is daar nie plek vir insektedoders nie. Of dit nou ‘n kontakdoder of ‘n sistemiese middel is, los dit. Aan die begin sal dit dalk moeilik wees, want die natuurlike vyande sou lankal die wyk geneem het omdat daar nie kos is nie. Ek kan nie onthou wanneer laas ek insekdoders in my tuin gebruik het nie. Nou die oggend sit ek en luister na die voëlgeluide. Ek besef toe dis omdat ek nie meer gif spuit nie dat hier meer goggas is, en omdat hier meer goggas is, is hier meer voëltjies, want hier is genoeg kos om te oorleef en kleintjies groot te maak.

Wanneer daar insekte in jou tuin is, is daar liefde in die lug! In die insekwêreld word klanke en geure dikwels gebruik om ’n maat te vind—wat nie ’n maklike taak is as jou lewensduur net ’n paar weke is en daar maar min voornemende maats in die omgewing is nie.
Insekte speel ’n noodsaaklike rol in ons daaglikse lewe. Trouens, ongeveer 30 persent van die voedselsoorte wat ons eet, is afhanklik van bestuiwing deur bye, waarvan die meeste wilde bye is. Maar bestuiwing is net een van die nuttige take wat insekte verrig. Insekte hou die aarde skoon deur middel van ’n doeltreffende herwinningstelsel wanneer hulle dooie plant- en dieremateriaal in bruikbare vorme omsit. Sodoende word die grond vrugbaarder gemaak, en voedingstowwe wat vrygestel word, kan dinge laat groei.
Wyfiepouoogmotte vind ’n maat deur ’n reuk af te skei wat so sterk is dat ’n mannetjie byna 11 kilometer daarvandaan die wyfie kan vind. Sy sensitiewe voelers kan ’n enkele molekule van die reuk waarneem.
Krieke, sprinkane en sonbesies verkies om hulleself hoorbaar te maak. Selfs die mens kan die minnesang van die sonbesie hoor wanneer hy sy hele liggaam in ’n klankbord verander. ’n Groot groep sonbesies wat besig is met hofmakery, kan meer geraas as ’n lugboor maak!

Drolpeer - Dombeya rotundifolia - foto vanaf Veldwagter
Halleria lucida langs 'n ou stomp en Vuurpyle
Maar dit gaan nie net oor die gebruik van gifstowwe nie. Ons kan heelwat doen om ons tuine meer aanloklik vir die veervolk te maak. Daar is heelwat plante wat veral skoenlappers kan terug lok tuin toe, soos die Koraalboom (Erythrina lystemon), die Notsung, ook genoem Fuschia, (Halleria lucida), en die Drolpeer (Dombeya rotundifolia). ‘n Goeie keuse vir tussen klippe of op ‘n rotstuin is die Crassula perfoliata. Ander plante is die Sonbekkiebos (Metarungia longistrobus), Fynblaarrooihout (Ochna serrulata), en die Wilde-pynappel (Eucomis Comosa, Eucomis autumnalis en die Eucomis humilis). Al die vuurpyle (Kniphofia) variëteite, Makhaya bella, Freylinia tropica, Juncus effesus en selfs die Varkoor wat hou van skaduwee en baie water. Geniet die skoenlappers wat terugkom en onthou -- ‘n ruspe is net ‘n skoenlapper wat nog nie vlerke gekry het nie!
- Sommige van die inligting vanaf 'Kormorant' 

 

Friday, 6 January 2017

Waarheen vlieg die tyd?

Ek weet dis 'n simpel vraag. Almal vra dit. Maar dis 'n gedagte wat by baie van ons opkom elke Nuwe Jaar. Dis dan wanneer ons besef hoeveel dinge ons wou doen, hoeveel dinge ons nie gedoen het nie en wat ons nag alles graag sal wil doen voor ons tyd op is.

'n Ou paspoort foto van 1985 (hier was ek 39)

Terwyl ek gister besig was om my rekenaar bietjie "skoon" te maak (dit gebeur elke nuwe jaar!), het ek op 'n ou paspoort foto van 1985 afgekom. My gedagtes het terug gevlieg na daardie jare - al die plekke waar ek gewerk het, die oorsese reis wat ek onderneem het, 'n besigheid (dekor-winkel) wat ek gekoop het, ons vorige plot wat ons besig was om te ontwikkel - en ek het besef daar was baie wat ek wel vermag het in die afgelope plus/minus dertig jaar. Die suksesse wat behaal is, die hartseer, die mooi tye, die moeilike tye, alles wat ons lewens vul en die moeite werd maak.

'n Onlangse foto van 201, ek en my kleiindogter

Deesdae sê ek dankie vir my familie, al die nuwe vriende wat ek gemaak het, my nuwe tuin (wel, my 12-jaar oue tuin), tyd wat ek in die natuur geniet, my gesondheid en elke nuwe dag wat gebore word. 

Dinge wat ek nog wil doen? Daar's nie veel op my lys nie. Ek's gelukkig met dinge soos hulle is. Solank daar genoeg kos op die tafel is, solank ek so nou en dan met my kinders en kleinkinders kan praat (en ek sê 'nou en dan praat', want 'n ge-tekstery en FaceBoek boodskappe gaan my nie aan nie!), solank hierdie pragtige land van ons genoeg reën kry en solank die son elke oggend opkom, is ek gelukkig.

Die dinge wat ek nie gedoen het nie? Ek kan nou om't lewe nie aan enige iets dink nie!

 

Wednesday, 4 January 2017

Micky is pragtig en fotogenies en vet en plomp en sag om vas te hou!

   Micky, my Bantam-kruis-Silkie hen
Elke oggend betree die trotse hoenderhaan die hoenderhok.   Saggies soen hy nege van tien henne. Maar van die tiende hoenderhen pluk hy ‘n veer. So gaan dit aan van dag tot dag…. die nege gesoende hoenders is bly, en die tiende hoender dra die pyn geduldig. 

Maar op die 14de dag  het die  hoenderhen nou genoeg van hierdie prosedure  gehad en sy skree vir die haan:  “Jy kom elke oggend breëbors  hier ingestap en soen  al die nege ander henne. Maar by my pluk jy  ‘n veer! Wat's jou plan?!“

Die haan fluister in haar oor: 

"Vir jou wil ek kaalgat sien, Skattie!"