Hallo!


Hallo, ek is Maree,

My geboortesertifikaat sê ek is Gezina Maria Cornelia de Wet, (my nooiensvan is de Wet, waaronder ek in Afrikaans skryf, en my getroude van is Clarkson), gebore in Johannesburg in 1946 en daarna het ek ‘n burger van die wêreld geword. Van Graad I tot Matriek was ek in 5 verskillende skole (Johannesburg, toé Pietersburg, Umtata, Kroonstad en Welkom – my pa was ‘n polisieman en was dus gereeld verplaas van een dorp na ‘n ander) en na Matriek het ek nog een jaar gestudeer by Wits Technikon en ‘n diploma in kuns en tale behaal (Afrikaans en Engels) asook ‘n diploma in sekretariële dienste.

Vanaf 1967 het ek verskeie posisies beklee in die korporatiewe wêreld as Sekretaresse, Persoonlike Assistente, Boekhouer, grafiese kunstenaar en vertaler by ‘n Uitgewer in Hillbrow, totdat ek in 1982 my eie besigheid begin het – ‘n kuns- en dekorwinkel waar ek ook binnenshuisversiering vir kliënte gedoen het en muurpapier gehang het! Gedurende daardie tydperk het ek ook brandskilderglaswerk gedoen en verskeie groot glaspanele en lampskerms vir ‘n paar Wildplase en Gastehuise gemaak.

My sterteken is Taurus en ek het twee susters en een broer, waarvan ek die oudste is, derhalwe is ek gewoond daaraan om beheer te neem van alles en te kry wat ek wil hê. Ek moet nogal daaraan werk om nie ‘n ’’control freak’’ te wees nie, want oorvloed betreë net ‘n mens se lewe wanneer jy wéét wat jy wil hê in dit dan oorhandig aan die Heelal en vertrou dat alles sal wees soos dit moet.


Ek is 'n eks-naelbyter, ’n eks-roker en ek vloek soos ’n matroos! Ek gehoorsaam alle wette en padreëls, ek betaal my belasting en my lisensiegelde gereëld en ek is nie bevooroordelend nie. Ek het ’n fenomonale lys van “useless information” in my kop en op my MAC en ek hou nie van spelfoute nie!

Ek het lankal geleer dat ‘n mens jouself moet wees – na-aping is selfmoord en buitendien, wie is beter of meer interessant as jyself? Ek weet ook dat vir alles is daar ‘n teenoorgestelde – binne/buite, bo/onder, wit/swart, negatief/positief en ek het ook al geleer dat ‘n mens ‘n keuse het en dat daar niks is wat jy ’’moet’’ doen nie – die ding is net om ‘n besluit te neem en dit dan te DOEN.

My groot voorliefdes is waterverf-skilder (jy kan al my kuns hier sien), diere (veral voëls), die natuur, tuinwerk, die kus, skryf, spoelklippe, kerse, die kleur Oranje, Herfs, Lente, Somer, Winter, rekenaartegnologie, my MAC, kristalle, mense, my Land Rover en die Heelal.

Die toekoms hou wonderlike dinge in vir die mensdom – laat ons dit met vreugde ontvang!


Clarke Bay strand, Ballito.

::


No comments:

Post a Comment