Showing posts with label aalwyn. Show all posts
Showing posts with label aalwyn. Show all posts

Tuesday 27 September 2016

Lente en Aalwyne

Dis nou vir jou 'n ding! Ek het 'n paar navrae gehad om hierdie blog lewendig te hou! Baie mense het gesê hulle hou nie van WordPress nie, is nie daar geregistreer nie, so kan nie juis kommentaar lewer nie. Ek het ook na gister se Blogger statistieke gekyk (wat effens verskil van Google Analytics) en gister het 114 mense hierdie blog besoek. So hier's ek nou weer en ons sal sommer afskop met lente. Maar Blogger is nog steeds vol snert, elke nuwe pos kom dubbel uit met een as 'n "draft", wat mens dan moet uithaal. Ai.

 "Aalwyn" potloodskets en waterverf in my Tuin-joernaal - Maree (Aloe ferox) Bitter Aalwyn 

Hierdie Lente is/was definitief 'n bietjie snaaks. nes ek gedink het dis nou lekker warm, toe tref erge koue ons weer. Maar die Aalwyne het pragtig geblom hierdie winter, en elke winter stel hulle my nooit teleur nie met hulle pragtige blomme wat hou tot diep in die lente. Hulle is waarlik 'n lewens-redder vir al die voëls na die dorre winter, veral die Swart Suikerbekkie (Black Sunbird of, die nuwe naam, Amethyst Sunbird)), wat vroeg-winter al van die heerlike nektar gebruik maak. Ek het hierdie skets van een van my aalwyne  in my Tuin-joernaal gedoen nadat ek opgemerk het hoe die bye ook om die blomme saamdrom om te drink. Die plant verskaf die meeste nektar na einde-winter se kant toe.

Vroeg-winter en die aalwyne begin net blom

Middel-winter en almal is in volle blom

Einde-winter en die blomme is vet en vol nektar

Lente en die Aalwyne is nou vol saad, 'n ware bewys dat lente uiteindelik hier is!

::

.

Thursday 21 November 2013

Bloedrooi die aalwyn in winter


Behalwe lente, somer en herfs, is winter een van my gunsteling seisoene! Smaail! Dis die tyd wanneer die bloedrooi aalwyne tuin en landskap versier, wanneer die hemelruim op sy blouste is en die lug kraakvars in jou asem kom sit. Dis ‘n tyd wanneer voëltjies lekker in die oggend sonnetjie bak in die blaarlose takke van die Karee, ‘n tyd wanneer mens heerlik in die son kan sit en skets en koffie drink.

Winter is ‘n tyd van lekker met vriende kuier voor a warm vuurtjie, deur foto-albums blaai en mooi herinneringe oproep. Iets het verlore gegaan in hierdie digitale era wat ons nou beleef. Al my foto’s van die afgelope 10 jaar is op my rekenaar gestoor. Dis nie dieselfde om deur foto’s te blaai op die laptop voor die vuurtjie nie.

Winter is ook tyd vir bietjie stil wees. Selfs die natuur raak stiller, rus bietjie en maak gereed vir die lente wat voorlê. In winter raak ek ook stiller. Neem ‘stock’ van wat gedoen moet word in die tuin oor ‘n maand of so of sit sommer net en lees ‘n boek, snoesig toegedraai in ‘n warm kombers met ‘n heerlike warm sjokolade-drankie byderhand.


En om nie eers te praat van die wonderlike klere vir winter nie! ‘n Mooi warm trui, ‘n pragtige jas, ‘n snoesige serp om die nek en heerlike warm stewels, wie kan vir meer vra?!


::