Showing posts with label afrikaanse blog. Show all posts
Showing posts with label afrikaanse blog. Show all posts

Friday 20 November 2015

Kaalvoet in die reën


Na die eerste heerlike reën van die seisoen, is dit vandag 'n pragtige blou, koel somersdag en my gedagtes gaan terug na my jong dae in die laat 1950's toe ons as kinders na elke reënbui buite in die waterpoele gaan speel het, kaalvoet en sonder sorge. Uitbundig gelag en mekaar met die water bespat en dit het nie saak gemaak dat ons vol modder geword het of dat ons klere besmeer was nie (daar was mos ordentlike "Surf" in daardie dae) - en in daardie dae is ons gedurig aangemoedig om buite te gaan speel.

En eintlik het ons nie 'n ander keuse gehad nie - geen TV, geen rekenaars en geen selfone of X-box nie, ons moes ons self vermaak. Hop-skotch, kennetjie, leap frog, draadkarretjies wat ons self gemaak het en rond gestoot het op "dorpstrate" wat ons in die sand gemaak het, vlieërs gevlieg, bome geklim en gespeel ons is Tarzan, veldblommetjies bymekaar gemaak om huistoe te vat vir Ma is maar 'n paar van die goed waarmee ons onsself besig gehou het.

En dis hoe ek vroeg vanoggend gevoel het, lus om kaalvoet in die poele water te plas. Of 'n vlieër in die sterk briesie te vlieg. Ek het my pantoffels in die huis gelos en kaalvoet oor die gras geloop na die reënmeter om te sien hoeveel ons gehad het. Gisteraand se stormagtige 28mm reën het die aarde goed gedoen, en my siel ook. Dis sommer asof al die spinnerakke weg gewas is tesame met die verskriklike hitte wat ons die afgelope weke ondervind het. Die dor aarde verdor sommer jou menswees ook, maak dat jy lus is vir niks. Ek kon aan niks kom nie en was net so verlep soos my Krismisrose. Maar nou staan hulle almal weer regop, verfris na daai hemelse water en

Ek wil dans
kaalvoet in die reën.
wil die druppels tel
een vir een.
Die reuk van grond nat,
water wat teen die ruite spat.
Die weer se gedonder,
God se wonder.
Dan raak dit binne stil,
en laat die prag
die leemte vul.
Weg al die kommer
en seer
dan breek die strale deur.
Aangehuppel
oor die laaste druppel.
Dit lag binne my
skoongewas en vry!
-

 

Wednesday 29 July 2015

Die langste reis begin met die eerste tree... so sê hulle...

~Foto vanaf Wikipedia~ 

Daar is soveel bestemmings en ontdekkingstogte om van te kies vir 'n reistog dat dit geweldige beplanning vereis om te besluit waarheen jy wil gaan.

Maar vandag wil ek nie praat oor 'n reistog na Namibië of Switserland of na die bosveld nie - die reistog waaroor ek wil gesels is dié van die ontdekking van jouself - hoeveel van ons weet presies wie of wat ons is? Of wáár ons in ons lewens is? Ken ons onsself en is ons lief vir onsself?

~Foto vanaf Wikipedia~ 

Soos hulle sê, "die langste reis begin met die eerste tree...". En om net daardie eerste tree te neem is die belangrikste besluit wat sal lei na die skepping vou jouself, 'n skepping van die self wat sal lei tot wie en wat jy is.

Soveel mense verlang dat jy jouself op 'n sekere manier moet gedra sodat hulle goed kan voel oor hulself. Hulle veroordeel jou vir jou selfsugtigheid. "Hoe durf jy so selfsugtig wees as om te doen wat jou laat goed voel? Jy moet doen wat ons laat goed voel!"

Jy is van jongs af al oortuig dat jy nie slim genoeg is om te weet nie en dat iemand anders jou besluite moet neem... Jy kon nie in hierdie kultuur en tye leef sonder om massiewe inligting daaraan verwant to ontvang nie, net soos mense reageer op wat jy doen en sê.

Dit maak nie eintlik saak watse geloof enigiemand volg nie. As hulle leefwyse vir hulle werk (en daar is baie verskillende benaderings wat baie goed werk) dan hoekom nie hulle toelaat om te glo wat hulle wil glo nie en te wees wat hulle wil wees nie? Alles werk soos dit is en moet. Daar is gelowe waarmee jy niks te doen sal wil hê nie wat perfek werk vir dié wat daarmee betrokke is. En derhalwe is dit dan 'n goeie ding. Elke geloof op die aarde het die potensiaal om te floreer (en daar is sovele meer as waarvan ons bewus is), maar wanneer jy dink jy moet bewys dat jóu geloof die enigste een is wat reg is—en jy gebruik jou veroordeling om daarteen te veg—dan skei jou veroordeling jou van jou verbinding met jou eie geloof.

~Foto vanaf êrens op die internet~ 

Die wêreld neig na uitdruklike gelykvormigheid of eenvormigheid, wat enorme ergernis en droefheid vir die mensdom veroorsaak. Dit is die kern van alle geloofsstrydslagte en geloofsstrydslagte is die kern van al ons strydsslae. Met ander woorde, al die oorloë en globale irritasie wat ons met mekaar voer gaan oor ons vasbeslotenheid om gelykheid en eentonigheid te bewerkstellig. Ons demokrasie hou vol dit is die enigste regering wat reg is en elke geloof (interessant genoeg) hou vol dat dit die enigste een is wat werk.

Dit maak nie saak wat enigiemand anders doen nie - wat jou karakter is en waar jy jou bevind in hierdie lewe sal bepaal wat jy is en wat JY doen - Jy kan vrylik kies om nuwe paaie van vreugde te ontdek. In vreugde sal jy groei; en in jou wasdom sal jy bytel tot Alles-Wat-Is. (Ewenwel is jy ook vry om gebondenheid of pyn te kies... maar enige iets wat enigeen kies is omdat hulle glo dat dit hulle beter sal laat voel.)

Niemand kan keer waarheen jy jou gedagtes lei nie. Daar is geen einde aan die vreugdevolle reise wat jy kan ondervind nie. Op die paadjie na jou geluk sal jy alles wat jy wil doen, wees of verlang, ontvang.

(Deur ander hul eie reistog toe te laat, laat jy joune toe.)

.

Wednesday 10 December 2014

Ek wens jou 'n rooi-tekkie dag!


Ek het 'n regte probleem om tekkies te vind waarvan ek hou met die gevolg dat, wanneer ek wel iets vind, ek sommer ses pare koop in al die kleure! Die probleem is gewoonlik dat óf die sole is te dik wat jou laat voel jy loop op "wedges", óf die tone krul op, óf hulle het liggies wat flits as jy loop óf hulle kom te hoog, tot amper by die enkel, óf hulle is in die helderste kleure van pers en lemmetjiegroen! Ek hou van plein, eenvoudige tekkies, verkieslik wit en nie met "stars and stripes" langs die kante nie.

Die paar wat ek hier bo geskets het is een van my gunsteling pare - eenvoudig, seildoek met veters. Ek het hulle in wit, rooi, donkerblou en swart. En ja, hulle is so skoon soos in die skets, ek haat vuil tekkies!

Variasies van rooi

 • Skarlaken - 'n rooi wat na rooi-oranje neig, en geen blou bevat nie.
 • Vermiljoen - 'n vurige rooi wat na effe meer na rooi-oranje neig as skarlaken, en wat van sinnaber, die kunsmatige rooi kwiksulfide was as pigment gebruik word, voorberei word.
 • Karmosyn - 'n rooi wat geen geel bevat nie, en na rooi-violet neig.
• Venesiaanse Rooi (ook bekend as Indiese Rooi en Indiaanse Rooi) - 'n bruinerige rooi wat van ystersulfied voorberei word.
 • Brandweerwarooi - 'n helderrooi wat gereeld op noodvoertuie gebruik word.

Rooi is darem maar mooi! Dis 'n kleur vol passie, wat liefde aandui en en wanneer jy rooi dra, sprankel jy sommer!










 (foto vanaf 'Beeld')


(Meeste foto's vanaf WikiCommons)

::