Showing posts with label antiekeware. Show all posts
Showing posts with label antiekeware. Show all posts

Saturday 14 June 2014

Laventel kerse in ou teekoppies


Antieke teekoppies wat hul pierings verloor het, kan oulike geskenkies maak as hulle in kershouers verander word - Ek het op hierdie oulike idee by Everything Fabulous afgekom - gaan na hulle webwerf om al die foto's te sien van hoe om dit te doen, dit lyk vreeslik maklik!

Wat jy nodig het:

- Gompistool
- Kerstermometer (of gebruik die tipe wat ’n mens gebruik wanneer jy suiker smelt vir lekkergoed)
- Draadpit met waks om, en ’n knippie/plaatjie
- Roomwaks of gebreekte ou kerse
- Knippe waarmee jy sakkies verseël, of bamboesstokkies
- Geursel vir kerse (laventel essential olie, nie die geur-tipe nie)
- Antieke teekoppies (of enige ander houer waarvan jy hou, selfs ou bottels kan gebruik word)
- Dubbelkoker (die belangrike ding is dat die water nie aan die glashouer moet raak nie)

1. Gooi water in die dubbelkoker, sny die waks in stukke en plaas dit binne-in die houer. Haak die termometer aan. Draai die plaat op hoë hitte.

2. Gebruik die gompistool om die draadkern-kerspitknippie onder in die houers wat jy gebruik, vas te gom.


3. Laat die kerspit van ‘n stokkie afhang sodat dit mooi reguit is. Jy kan ook 'n knippie waarmee sakke verseël word, gebruik om die kerspit vas te knyp. Dit moet net lank genoeg wees.

4. As die waks eers gesmelt het en tot omtrent 83°C verhit is, verwyder van die hitte en voeg kleur by. Wag tot dit tot 80°C afkoel om geursel by te voeg.

5. Giet die waks in elke houer en maak seker dat die kerspit op sy plek bly. Gaan die houers gereeld oor die volgende halfuur of so na om seker te maak die kerspitte skuif nie.

En voilà!


::

Tuesday 3 December 2013

Antiekeware

1950's "Ball & claw" vertoonkas met 'n 1930's "barley twist" potplanthouer langs dit

Gedurende die 1980's het ek 'n voorliefde vir alles oud en antiek ontwikkel. My droom was om in 'n ou "vintage" huis met houtvloere en staalplafonne te woon en ons het amper 'n ou 1890 huis in Krugersdorp-Noord gekoop, maar in daardie dae was dit my nie beskore nie. So ek het gedoen wat enige ander vrou met 'n manie doen, die beste gemaak van 'n slegte saak en my hele (moderne) huis gemeubileer met antiekeware en muurpapier en "vintage" linneware gebruik vir atmosfeer.

My voorliefde was eintlik silwer- en porseleinware, maar selfs 'n 1950's vertoonkas het nie my aandag ontduik nie. Vandag staan dit vol met silwer en porselein wat ek destyds aangeskaf het. Dit "pas" nou nie meer by my huidige dékor nie, wat diep uit Afrika is, maar ek is nog vreeslik lief daarvoor. Oor die jare het ek baie van my aankope verkoop maar 'n paar gunstelinge het agter gebly.


Soos hierdie 1850's Stinkhout Kaapse lessenaar wat nog in uitstekende toestand is. Dit het 'brass' handvatsels op die sewe laaie en die pragtigste antieke patina. Dit is steeds in daaglikse gebruik en is die plekkie waar ek 'n bietjie kreatiwiteit beoefen; groete kaartjies maak en in my joernale skryf. Die lamp is 'n 1920's teleskopiese tafellamp met 'n brons smid (blacksmith) figuur.

Die antiekhandel is wisselvallig. Soos met elke ander ding waarmee ons ons klee en ons huise meubileer, is daar onvoorspelbare modegrille wat onder meer pryse vir bepaalde antieke goedere beïnvloed.

Die redes waarom mense antieke ware koop verskil baie. Mense word byvoorbeeld deur nostalgie gedryf, omdat versamelaars van oudhede daarin 'n manier vind om die verlede terug te roep, om onsterflikheid te koop. Of vir belegging of om iets na te laat vir die nageslag. Dan is daar snobwaarde ook. Die algemene bekendheid van sekere voorwerpe, soos Lalique en Galle-glasware uit die Art Nouveau en Art Deco-tyd, laat jou gaste dadelik verstaan jy is goed daaraan toe.

Hier is 'n paar van my versamelings :

 1820 Walnut side table with fretted gallery and Ormolu insets

Lloyd Loom wasgoed mandjie van die 1920's

'n Koppie en piering vanuit die 1930's (dink ek, geen identifiserende merke nie)

Silwer bottermes vanuit die 1800's

"Chain mail mesh purse" vanaf die Victoriaanse era


'n Versameling snyglas items (cutglass) uitgestal in my gastekamer

Snyglas versameling - 'n sout en peper, mosterd en asyn stelletjie heel agter, regs is 'n parfuumfles en heel voor 'n bakkie vir lekkernye

Middel - 'n Silwer troukoekmes - Sheffield 1921

Een van my vele "mismatched" koppies en pierings, gekoop sommer net oor dit mooi is

::