Showing posts with label besoek die natuur elke dag. Show all posts
Showing posts with label besoek die natuur elke dag. Show all posts

Sunday 5 April 2015

Besoek die natuur elke dag


Al is dit winter, nee, VERAL as dit winter is, geniet ek dit om buite die sonnetjie in my tuin op te soek. 'n Son wat nie skroei nie, maar heerlik en warm op jou kom rus sonder om jou skaduwee toe te jaag. Bietjie tuin natspuit, 'n paar onkruidjies uittrek en mens is gereed om jou baadjie uit te trek.

Winter is ook die tyd wanneer die natuur stilletjies skoonmaak - die dood van 'n plant of twee wat te erg ryp gekry het getuig van die feit dat net die sterkstes in die natuur oorleef. Dit het my al geleer om net dít te plant wat ek weet in hierdie klimaat aard. Vir Hibiskus en Koorsbome is daar nie plek hier nie, dis soos om vriende aan die dood uit te lewer!

'n Daaglikse stappie op ons plot, al is dit yskoud, lewer ook allerhande interessante dingetjies op - 'n mooi klippie, droë takkies vir 'n mooi rangskikking, 'n kans om foto's te neem van insekte - en gou vergeet mens van die koue en is jy weer begeesterd vir die dag.

.