Showing posts with label kweek laventel. Show all posts
Showing posts with label kweek laventel. Show all posts

Sunday 13 September 2015

Kweek 'n Laventelbos


Elke tuin behoort ’n laventelbos te hê – dit is maklik om te kweek, het min water nodig en is ongelooflik bevredigend. En daar is soveel waarvoor mens dit kan gebruik, soos byvoorbeeld :
  • Hang bosse laventel op om droog te word in ’n donker, droë plek. Wanneer dit droog is, kan jy dit in potpourri gebruik, in die vuurmaakplek gooi vir ’n heerlike reuk of sakkies van die gedroogde blomme in jou kaste sit om motte uit te hou.
  • Laventel is ’n pragtige versiering vir koeke en nageregte, maar jy kan ook gedroogte laventelblomblaartjies by jou koekmengsel voeg. Die geur van laventel smelt baie lekker saam met sjokolade.
  • Sukkel jy om te slaap? Sit ’n vaas met laventel in jou slaapkamer. Die geur van laventel het ’n kalmerende en ontspannende uitwerking.
  •  Geborduurde sakkies met droë laventel en Laventelolie kan ook gebruik word vir vismotplae.
(Foto vanaf Pinterest)

Laventel en Byewaksseep

Hierdie is ‘n klein reseppie, maar jy kan natuurlik die mates vermeerder teen dieselfde verhoudinge soos wat jy nodig het:
  • 114g Gliserien basis-seep
  • 10 Druppels laventel botaniese (essential) olie (LW. Nie geurolie nie)
  • 1 Druppel pers/laventel kleursel
  • 1 Teelepel byewaks
Smelt die gliserien-seep op lae hitte of jy kan dit selfs in die mikrogolf doen. As dit gesmelt is, verwyder dit van die hitte, voeg die byewaks by en roer totdat dit gesmelt is en voeg dan die botaniese olie en kleursel by. Roer deur en gooi in jou gietvorms.



Sarie-tydskrif het selfs 'n Laventel-skons resep :
  • 500 ml koekmeel
  • 15 ml bakpoeier
  • 60 ml ongesoute botter
  • 60 ml suiker
  • 15 ml gekapte laventel
  • 150 ml melk
Voorverhit die oond tot 180 °C. Sif die meel en bakpoeier saam. Vryf die botter in die meel tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg die suiker en gekapte laventel by die meelmengsel.

Voeg nou genoeg melk by om ’n stywe deeg te vorm. Druk die deeg plat op ’n meelbestrooide oppervlak en sny die skons uit met ’n koekiedrukker. Plaas die skons op ’n gesmeerde bakplaat en smeer ’n bietjie melk oor elkeen.  Sprinkel met suiker en sit ’n takkie laventel bo-op.

Bak vir 10 tot 12 minute. Sit voor saam met konfyt of roosblaarjellie en geklopte room.


Laventel lyk ook pragtig in potte geplant en verhelder enige hoekie van die tuin, paadjie of die stoep. Dis maklik om steggies te neem van 'n laventelbos - pluk 'n takkie en doop in hormoonpoeier en plant dan in 'n pot gevul met goeie potgrond. Sit dit op 'n plek waar dit 'n paar uur oggendson kry totdat die plantjie mooi pos gevat het voor jy dit in vol son sit.

Laventel se natuurlike omgewing is oop, droë en klipperige aarde. Hulle is waterwys, vaar die beste in die vol sonlig en hou van goed gedreineerde grond. Hoewel Laventel (soos alle plante) sal baat by goeie kompos, hoef die grond nie té ryk te wees nie. Laventel hou glad nie van ‘n nat, bedompige klimaat nie en is geneig om gou vrot te word. Sommige soorte groei redelik uitspattig en moet in toom gehou word as dit in ‘n meer formele omgewing geplant is. Andersyds is dit ‘n plant wat min sorg verg. Die plante kan in die lente en herfs teruggesnoei word as dit stokkerig raak of in ‘n heiningvorm gesnoei moet word. Laventel kan ligte ryp hanteer en kan matige droogte hanteer. As ‘n gemiddelde reël is die gryser soorte meer gehard as die groener variëteite.

.