Showing posts with label resepte. Show all posts
Showing posts with label resepte. Show all posts

Saturday 23 July 2016

Ietsie vir die koue


Hierdie resep is een wat ek al jare gebruik en is nog altyd vir my ‘n ware staatmaker. Hier het ek dit bedien in 2 ou enamel blikborde uit my versameling.

Vir my is koue weer mos sopweer. Maar ek is nou nie van die ou garde, soos my ma, wat 9uur in die oggend die sop begin kook het en dan was dit reg vir aandete nie. Eintlik het sy die vorige aand al begin, as die resep bone of iets bevat het wat oornag in water geweek moes word. Ek leef mos in die “kitswêreld”, waar alles gou en onmiddelik moet plaasvind – ek bedoel, ons praat dan met ons vrinne op die internet, vanoor die hele wêreld, en alles binne minute!

Hierdie was ons aandete gisteraand, en alles gereed om op te skep en te geniet binne ‘n uur, tafel dek ingesluit!

Aartappelsop

Skil en sny 5 aartappels in stukke
1 medium ui, in stukke gesny
1 pakkie spek, gesnipper
1 hoenderaftrekselblokkie
1 houer room (opsioneel)
fyn gekapte vars pietersielie (opsioneel)
‘n bietjie olie/ botter vir braaidoeleindes
sout en peper na smaak

Braai die ui tot deurskynend. Voeg dan die spek by en braai totdat die spek
gaar is (moenie die spek bros braai nie!).

Voeg dan jou aartappels by die spek/ui mengsel en bedek die hele spul met
water.

Gooi die hoenderblokkie by. Kook die aartappels tot gaar. Laat ‘n bietjie
afkoel en verwerk daarna tot glad en romerig.

Verhit weer die sop tot kookpunt. As room gebruik gaan word, roer dit in net
voor bediening, maar die sop moet dan nie weer kook nie anders sal dit skei.

Toets vir sout en peper en versier met vars pietersielie en GENIET!

::

Thursday 22 October 2015

Groener weivelde

"To exist is to change, to change is to mature, to mature is to go on creating oneself endlessly." 
- Henri Bergson


Dis snaaks hoe 'n mense se smaak verander oor die jare. Wat jou 'n paar maande terug geïnteresseer het, is skielik nie meer so oulik nie. Ek is 'n groot aanhanger van waterverfskildery-blogs, maar skielik is skilders aan wie se kwasse ek letterlik gehang het, vervelig en vaal. Dieselfde ding oor en oor en oor, g'n groei of verandering of verbetering nie. Is dit hulle, of is dit ek?

Ek is definitief 'n liefhebber van my roetine en lief dit as my dag mooi glad verloop, maar ek raak gou ontsteld as dinge vervelig begin raak - my roetine moet elke dag iets nuuts insluit, al is dit net om my koppie koffie te verruil vir 'n warm sjokolade.

Ek lief dit om myself met inspirasie te omring, dis asof ek die lewe inteug daardeur. Maar dis nie altyd 'ander mense' wat te blameer is nie - wanneer jy self groei is dit vanselfsprekend dat dít waarin jy geïnteresseerd is gaan verander, dat jou fokus gaan verskuif en dat jy 'groener weivelde' gaan soek.

Ek is nie juis veel van 'n kok nie, hou nie juis daarvan om te kook nie, maar deesdae vind ek myself al hoe meer geïnteresseerd in resepte. Maar maklike, flatervry resepte. Bobotie is te ingewikkeld vir my. Ek het nie tyd of lus vir fênsie en moeilik-bekombare bestanddele nie. Ek en my man is albei eenvoudige eters - rys, vleis en aartappels, sê ek altyd. En slaai. En groente, baie groente. En rys. Ek kan 'n hele bak rys net so plein opeet sonder om tweemaal te dink!

Nou die dag was ek vroeg vir my haarafspraak en reg langs die haarkapper was 'n Oceanbasket-restourant. Ek eet nie juis vis nie, maar het besluit om in te gaan vir 'n koppie koffie en terwyl ek so deur die spyskaart geloer het, het ek gesien hulle bedien rys as 'n "side order". Dis net die ding waarvoor ek lus is, dink ek, en dis net R17! So ek bestel toe 'n porsie en dit wat opgedaag het, bedien in 'n groot braaipan, was genoeg om die weermag te voer! Maar hoe heerlik! Bietjie botter bo-op en ek het die hele lot klaar gemaak!

So ja, groener weiveld, ek is op pad!

.



.