Showing posts with label tuinwerk. Show all posts
Showing posts with label tuinwerk. Show all posts

Thursday 29 October 2015

Hoe leef jy - elke dag?


Ons weet almal van “leef elke dag asof dit jou laaste is” en dit op sigself is moeilik genoeg. Hoe sê hulle, “life happens”. Ons is gejaagd, dinge moet gedoen word, en baie gou is ons hele lewe, en huis, bietjie deurmekaar.

Maar nou, ek het hierdie vriendin wat vir my sê sy leef elke dag asof kuiergaste kom! Dinge moet altyd mooi reg gepak wees, skoon en afgestof wees, daar moet altyd blomme op die tafel wees, vars gebakte koekies in die blikke en vars brood om te bedien. Hoeveel ure het sy in die dag wat ek nie het nie?!

Dit neem al my tyd en energie in beslag om te sien dat daar nie TE veel stof is nie, dat die kaste darem so elke nou en dan bietjie reg gepak word, dat die tafels en kaste nie oorgeneem word deur dinge wat mens sommer net neersit nie, dat daar darem kos in die yskas is en dat die stoorkamer darem netjies is. EN ek het huishulp en geen kinders in die huis nie!

Want daar is ander dinge in die lewe wat gebeur - soos skilder, tuinwerk, boeke om te lees, diere om na om te sien, blogs wat geskryf en gelees moet word, en kantoorwerk wat gedoen moet word. Hoe op aarde bly mens by met alles?

En tog doen ons dit. Want ons weet dat, 99% van die tyd gaan vandag NIE ons laaste dag wees nie en 99% van die tyd gaan daar NIE kuiergaste opdaag nie. En as die laaste dag van my lewe of ’n onverwagse kuiergas my vang met ’n deurmekaar huis of liasseerwerk wat nog nie gedoen is nie of stof op die tafel, so be it. Ek weet ek het elke dag ten volle geniet en benut en dit wat oorbly, moet maar wag tot ’n volgende keer.

Friday 11 July 2014

Is dit tyd vir aftree?


Aftree. Ek is nou op daai ouderdom en dis 'n woord wat ek baie hoor deesdae. My dogter vra, "Wanneer gaan julle aftree, Ma?" Ander afgetrede vriende van ons ouderdom (ek en my man grens albei aan 70) vra ook die vraag, "Wanneer gaan julle aftree?" Nou het ek begin dink, is dit dalk tyd vir aftree?

Maar aftree van wat? Van werk? Vir die afgelope twintig jaar of so bedryf ek en my man ons trekker-besigheid hier op ons plot en ek kan waarlik sê dat daar min dae was wat soos "werk" gevoel het. Ons deure is oop van 8vm tot 5nm in die week, geen naweke nie maar as daar wel navrae vir trekkeronderdele is op 'n Saterdag, skroom ons nie om iemand te bedien as ons wel by die huis is nie.


Ons tyd is ons eie. Ek hoef nie my inkopies op Saterdae te doen omdat ek "werk" nie. Ek doen inkopies gedurende die week. As dit ons pas en as die werklading dit toelaat, dan sluit ons die deure en gaan kuier vir my dogter by die kus vir 'n paar dae. Ons gaan eet gereeld ontbyt saam by die Wimpy in Magaliesburg wanneer dit ons aanstaan en tussen-deur sien ek om na my hoenders, werk in die tuin, skets en skilder gereeld en beoefen 'n paar ander kreatiewe dingetjies wanneer ek lus is.


Ek stap gereeld vroeg-oggend of laat-middag op die plot rond, kamera of sketsboek in die hand, op soek na iets moois om te teken of af te neem. Ek laai en verkoop my kuns op verskeie webwerwe op die internet en 'n hele paar blogs hou my besig. My man se stokperdjie is om aan ou, klassieke karre te peuter en hy neem deel aan byeenkomste en uitstappies oor die Boere-oorlog geskiedenis van ons land, wat al sy spaar tyd, so tussen werk deur, in beslag neem.

Nou wonder ek net - aftree van wat? Wat is aftrede eintlik? Om op te hou werk?

Toe lees ek êrens 'n definisie van aftrede : "aftrede is ’n aksie waartydens ’n werker ophou om sy/haar hoofberoep te verrig, terwyl hy/sy steeds ’n inkomste ontvang in die vorm van pensioen. Omdat baie werkers voortgaan met arbeid op ander terreine, kan aftrede ook beskryf word as ’n radikale verandering en ’n voortgaande proses." 

Mense sien met verwagting uit na die dag wanneer hulle finaal van werksdruk, tydsdruk en ’n magdom verantwoordelikhede verlos kan wees om hulle eie ding rustig en ontspanne te kan doen. Arbeid het die mens se lewensiklus geword, met aftrede as die finale fase in die siklus. Eers in die twintigste eeu het mense lank genoeg bly leef om te kan aftree. In die Steentydperk was die gemiddelde lewensverwagting ongeveer 18 jaar, in die Romeinse tyd 22 jaar, in die Middeleeue 25 jaar en teen 1900 was dit 44 jaar. Vandag kan ’n man verwag om 76 jaar en sy vrou 80 jaar of ouer te word.

So aangesien dit blyk dat daar nog so om-en-by twintig of dertig jaar vir ons voorlê, met of sonder om te werk, is dit dalk nou meer 'n geval van aftree van ou gewoontes; aftree van die roetine van 7vm wakker word, half-agt te bad en 8-uur die deure vir besigheid oop te maak, aftree van die roetine om 10uur ontbyt te gaan eet, aftree van die roetine van dinge oor en oor dieselfde te doen.


Dalk is dit nou tyd om partymaal eers 9-uur op te staan; dalk is dit nou tyd om vir 'n verandering in 'n vreemde land in 'n vreemde bed wakker te word, dalk is dit nou tyd om Mount Everest te gaan klim. Dalk is dit nou tyd "to be what you might have been."


Volsirkel : George Eliot het gesê, "It's never too late to be what you might have been". Maar ek dink dit is klaar te laat - ek voel ek is al klaar 'what I might have been'.

So ek dink ons lewe is 'n voortgaande proses. Ons hoop om hier dood te gaan, afgetree of te nie - Dave in sy werkswinkel en ek voor my esel of die rekenaar, besig om een laaste blog-pos of skilderstuk te doen (die onvoltooide meesterstuk.)

.