Showing posts with label winter. Show all posts
Showing posts with label winter. Show all posts

Wednesday 28 June 2023

Winters-aande

 


Werk jy ooit in die aand in jou tuin? Hier by die kus doen ek dit gereeld, want partymaal is dit gans te warm vir my gedurende die dag, veral in die somer.

Foto om 7-uur geneem met iPhone 11 Pro

Vannaand, terwyl ek besig was om die tuin bietjie nat te spuit, het dit my opgeval hoe lewenslustig die plante in die aand lyk. Die rede hoekom ek nat gespuit het, is omdat die plante heeltemal verlep gelyk het vanmiddag.  Dit was vandag besonders warm vir 'n Herfs-dag. Maar vannaand het hulle vars gelyk en op aandag gestaan vir die koeler luggie.


Nog 'n rede om in die aande tyd in die tuin te spandeer, is die pragtige geluidw van die krieke en rietpaddas, selfs die vlermuise soos hulle laag oor die tuin swiep. En dis ook die tyd wanneer allerhande snaakse goeters hul verskyning maak, soos die mol wat ek eergisteraand in die tuin rond gejaag het - wou hom nie seermaak nie, wou net hê dat hy moet trek na anderkand my heining! Dis ook 'n goeie tyd om slakke bymekaar te maak en anderkant die heining los te laat.


Aangesien dit al amper einde-Mei is, is dit streng gesproke seker al Winter, maar hier by die kus ken ons mos nie "winter" nie. 'n Paar 20°C dae met warm kouse en dis ons Winter-ondervinding. Selfs die Swaeltjies kies nie die pad in April nie, hulle dans dwarsdeur die jaar oor die suikerriet anderkant my heining. Dis net sekere plante en bome, soos die Koraalboom (Erythrina lysistemonwat Winter aankondig met blaarlose takke en pragtige rooi blomme.




Fotos vanaf Sanbi

::

Thursday 21 July 2016

Verbaas en gelukkig!


Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is... Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.


Jy sou dalk lag as jy dit moet sien, dis gladnie 'n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis 'n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. 'n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou. Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.


Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter. 


Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek...



My amper 40-jaar oue perskeboom weier om op te gee - nuwe bloeisels dui op nog baie lewe in hierdie ou dame. Verlede jaar het die regterkantste tak mee gegee onder die gewig van al haar vrugte en dit lyk of sy weer hierdie somer haar bes gaan probeer!

.

Saturday 18 July 2015

Saadjies van dankbaarheid


Gister was die koudste dag wat ons nog hierdie winter hier in Gauteng beleef het - 11°C met 'n ysige wind wat murg en been deurdring het. Gauteng het die wonderlikste, gematigste weer in ons land, maar as Moeder Natuur in die Kaap 'n tantrum gooi, ly ons hier daaronder!

Maar die koue weer bring dankbaarheid vir dít wat ek het - 'n warm huis om in weg te kruip, 'n warm koppie tee om te geniet saam met 'n goeie boek en 'n kniekombersie om die bene warm te hou.

.

Thursday 16 April 2015

Goue oggende


Ek kyk na die sonsopkoms deur my ateljee venster. Die bome is amper kaal, maar daar is nog steeds 'n bietjie kleur buite my deur. 'n Goue oggend wat 'n blou hemel belowe en Somer se laaste hoera.

Dit voel als so eenvoudig.

So stil.

So lieflik.

En dit is.

Sunday 5 April 2015

Besoek die natuur elke dag


Al is dit winter, nee, VERAL as dit winter is, geniet ek dit om buite die sonnetjie in my tuin op te soek. 'n Son wat nie skroei nie, maar heerlik en warm op jou kom rus sonder om jou skaduwee toe te jaag. Bietjie tuin natspuit, 'n paar onkruidjies uittrek en mens is gereed om jou baadjie uit te trek.

Winter is ook die tyd wanneer die natuur stilletjies skoonmaak - die dood van 'n plant of twee wat te erg ryp gekry het getuig van die feit dat net die sterkstes in die natuur oorleef. Dit het my al geleer om net dít te plant wat ek weet in hierdie klimaat aard. Vir Hibiskus en Koorsbome is daar nie plek hier nie, dis soos om vriende aan die dood uit te lewer!

'n Daaglikse stappie op ons plot, al is dit yskoud, lewer ook allerhande interessante dingetjies op - 'n mooi klippie, droë takkies vir 'n mooi rangskikking, 'n kans om foto's te neem van insekte - en gou vergeet mens van die koue en is jy weer begeesterd vir die dag.

.

Wednesday 22 October 2014

Koebaai aan die winter


'n Laaste koebaai aan die winter wat nou agter die rug is hier in Gauteng - op die oomblik beleef ons hittige somerdae, lente was sommer maar net 'n geruggie wat gou verby gevlieg het. My perskeboom het te midde van al die koue pienk botsels uitgestuur en toe sommer, voordat die bloeisels behoorlik oop was, haar groen blaartjies die somer laat verwelkom.

Ek hou van die winter, maar Lente is eintlik my gunstelingseisoen - heerlike middelmatige dae, groen wat oral in die landskap verskyn en reën wat verligting bring vir al ons fauna en flora.

(Waterverf op Bockingford 300gsm - Maree)

 Ons was hierdie winter nie so gelukkig nie, ons plot het nie die verwoestende veldbrande vrygespring nie en alhoewel ons die nodige voorbereidings getref het, was die gras baie droog en die Augustus winde (eers in September gekom!) het saam gespeel om die vlamme die hele plot vol te blaas. Nou sien ek net uit na die reëns wat maar net nie wil kom nie...

.

Thursday 25 September 2014

Die winter is verby

Na die koue, lang winter, is dit tyd dat die natuur weer lewe kry. Die kort dae is nou langer en die perskebloeisels en groen gras begin oorneem. Van Lente was daar omtrent geen sprake nie en nou is dit Somer. Somer is buite-wees tyd. Sorgelose ure. Lang slenterstappe in die skemer se soeltes en ‘n braai onder gesellige sterre. Somer is groei – my kappertjies wat begin blom, vinkneste word gebou, klein voëltjies wat leer vlieg. 



Somer het ook sy slegte kant. Dis ‘n tyd van lastige vlieë en muskiete, veral muskiete wat my hoenders byt en hoenderpokkies veroorsaak. Ek haat gifstowwe, maar vir muskiete en rotte het ek geen genade nie. Baie maal styg my irritasie vlakke saam met die temperatuur – enige iets hier oor 28℃ en ek sluit myself toe in my ateljee met die lugverfrisser op ‘n sterk 16℃. Stappies in die veld word gereël vir vroeg-oggend of skemer en die strand besoek ek net in die winter, wanneer die temperatuur gewoonlik so ‘n matige 23℃ is.


Maar somer is hier en ek verlustig my tóg in die heerlike warm weer, die lewegewende reëns and Moeder Natuur se skouspelagtige landskappe wat sy in somer optower. 

::

Saturday 21 June 2014

Saterdaggedagtes


'n Yskou Saterdagoggend hier in Tarlton (Gauteng, Suid Afrika) en vandag...

wil ek graag 'n mooi gedig of boek lees
wil ek graag 'n mooi prentjie sien
wil ek graag inspirerende musiek luister
wil ek graag iemand merkwaardig ontmoet
wil ek graag 'n paar verstandige woorde sê

en

wil ek graag my motorhuis regpak

::

Saturday 7 June 2014

Winter - Hoor die blomme en die blare...


'Hoor die blomme en die blare 
bewend van die winter praat, 
doodgedoemde martelare, 
siek en van die son verlaat. 
O, bly by my, beminde teer, 
dan bloei in my die somerblomme weer.' 
- Onbekend 

'n Brawe veldblommetjie op ons kleinhoewe. Selfs die ysige paar dae wat ons nou ondervind kannie die lewenslus van hierdie pragtige blommetjies demp nie! 

::

Thursday 21 November 2013

Bloedrooi die aalwyn in winter


Behalwe lente, somer en herfs, is winter een van my gunsteling seisoene! Smaail! Dis die tyd wanneer die bloedrooi aalwyne tuin en landskap versier, wanneer die hemelruim op sy blouste is en die lug kraakvars in jou asem kom sit. Dis ‘n tyd wanneer voëltjies lekker in die oggend sonnetjie bak in die blaarlose takke van die Karee, ‘n tyd wanneer mens heerlik in die son kan sit en skets en koffie drink.

Winter is ‘n tyd van lekker met vriende kuier voor a warm vuurtjie, deur foto-albums blaai en mooi herinneringe oproep. Iets het verlore gegaan in hierdie digitale era wat ons nou beleef. Al my foto’s van die afgelope 10 jaar is op my rekenaar gestoor. Dis nie dieselfde om deur foto’s te blaai op die laptop voor die vuurtjie nie.

Winter is ook tyd vir bietjie stil wees. Selfs die natuur raak stiller, rus bietjie en maak gereed vir die lente wat voorlê. In winter raak ek ook stiller. Neem ‘stock’ van wat gedoen moet word in die tuin oor ‘n maand of so of sit sommer net en lees ‘n boek, snoesig toegedraai in ‘n warm kombers met ‘n heerlike warm sjokolade-drankie byderhand.


En om nie eers te praat van die wonderlike klere vir winter nie! ‘n Mooi warm trui, ‘n pragtige jas, ‘n snoesige serp om die nek en heerlike warm stewels, wie kan vir meer vra?!


::

Friday 27 September 2013

'n Binnenshuise wintertuin


Meeste van my geliefste potplante was nog in die huis tot so drie weke terug, 'n jaarlikse winter-gebeurtenis wat my waskamer in 'n blommekamer verander. Tussen wasmasjiene en tuimeldroërs en opgevoude wasgoed geniet hulle 'n plekkie in die son. 

Aan die begin van elke winter word almal binne toe gedra en daar bly hulle en gesels ons met mekaar tot Lente haar kop uitsteek en almal weer uitgedra word na hulle respektiewe plekkies buite op die stoep of in die tuin. 



Symperviums, 'n geskenk van 'n geliefde vriendin 


 ::