Thursday 17 April 2014

Hoop


Ons almal het al die gesegde gehoor, "Solank daar lewe is, is daar hoop." Maar as jy dit omdraai, "Solank daar hoop is, is daar lewe", klink dit vir my soveel meer belowend... In die aangesig van enige krisis, of dit nou siekte is, of familie- of geldelike probleme, om to HOOP dat dinge gaan verbeter lei na 'n vaste geloof dat dit wel gaan verander en verbeter. En dit plaas ons ook in die posisie van wat NOU aangaan in ons lewens - NOU is al wat is, NOU is die enigste wonderlike werklikheid wat ons almal het om die wonder van lewe op aarde te geniet, met mekaar te deel, en daardie woordjie "hoop" maak alles moontlik...

maar môre is ‘n nuwe
dag,
(môre mag mos mooi
wees)
môre sing die
bloukuifloerie 
in die voortuin by die
hek
en sit tinktinkie dalk
weer op sy uitgesoekte
plek

ja môre bring weer
nuwe hoop
waar sy haar paadjie 
trippeltreë mag loop
- Uittreksel uit Elizabeth Kendall se "Hoop"

.

Friday 28 March 2014

Om vriende te kweek


Is jy lief vir tuinmaak? Is jy lief vir jou vriende? Die twee is baie dieselfde. Albei is kosbaar vir ons, albei vat toewyding, tyd, liefde, aandag en baie werk.

Sonder om tyd in jou tuin te spandeer sal jy dit eerstens nie kan geniet nie en tweedens sal jy dit nie leer ken nie. Elke plantjie vertel ‘n storie, of dit gelukkig is, of dit genoeg water en kos kry, of dit genoeg aandag en liefde kry. Hoeveel werk jy in jou tuin insit is sigbaar in hoe goed jou plante blom, hoe sterk hulle is om dit deur die winter te maak en hoe hulle groei, seisoen na seisoen.

Dieselfde is waar omtrent ons vriende. As ons nie aan ons verhoudings werk nie, nie genoeg tyd saam met ons vriende deurbring nie, sal die vriendskap daaronder ly. Liefde en aandag in ons verhoudings met ons vriende is belangrik, dit hou die vriendskap sterk. Vriende help ons om te groei, om onsself beter te leer ken en ondersteun ons in moeilike tye, die “winter” van die lewe.

So, nes met die blomme in jou tuin, kies jou vriende reg! Hul koester jou drome en werk sag met jou hart.

.

Monday 10 March 2014

Ek wil julle graag voorstel aan Jacko


"Jacko" potloodskets en waterverf in my Moleskine waterverf sketsboek

Ek wil julle graag voorstel aan Jacko, my Fox Terrier x Jack Russell, wat nie weet dat hy 'n hond is nie. Hy eet wat ons eet, gaan waar ons gaan en as hy nie kan gaan nie, gaan ons nie. Hy het 'n sekere 'air' omtrent homself en waar ookal ons gaan, stop die mense om met hom te praat en hy vergoed almal met die hartlikste verwelkoming, veral kinders, oor wie hy absoluut mal is.

Hy was Oktober 2013 7 jaar oud en met sy aankoms hier was hy omtrent 4 weke oud - so klein ek het hom oral in my sak of handsak rondgedra, toe 'n mandjie en daarna in die trollie as ons winkelsentrum toe gaan. Van kleins af al het hy sy harnas gaan haal as hy weet ons maak gereed om uit te gaan, en sodra hy dit aan het, tel hy die leisel op met sy mond en staan en wag geduldig tot ons gereed is. Sy groot voorliefde is om by die motor se venster uit te hang en alles te bekyk.

Sy gunsteling plek is Mirjam's Restourant & Pub in Magaliesburg, want dis een van die min plekke waar ek sy leisel afhaal en hy vrylik kan rondsnuffel. En as ons die dag verby Mirjam's ry op pad êrens anders heen, dan is dit 'n geblaf en 'n gesmeek vir ons om terug te draai!

 Jacko 6 weke oud

Of dit nou reg of verkeerd is weet ek nie, maar 'n mens raak so versog op jou troeteldiere dat, die dag wanneer hul lewens tot 'n einde kom, voel dit of jy 'n lewensmaat verloor het. En as 'n buitestander van so 'n gebeurtenis, kan 'n mens maar net jou kop skud en jou verbaas aan mense se reaksies tot dit die dag met jou gebeur. 




Thursday 6 March 2014

Luister na die lied van die natuur

'n Paar woorde in een van my Natuur-Joernale... 

Om 'n Natuur-joernaal aan te hou is een van die groot vreugdes in my lewe. Hier bewaar ek herinneringe uit my tuin en die natuur, maak ek notas van belangrike dinge en gebeurtenisse en gee ek vrye teuels aan my gedagtes en verbeelding. Mooi natuur-gedigte word hier vasgeplak tesame met sketse, mooi prentjies en drome. 

:: 

Luister na die geluid van reëndruppels op ‘n sinkdak 
Die lied van paddas wat saamsing in ‘n koor 
Luister hoe die wind ‘n boom laat kreun en kraak 
Dis die lied van die natuur wat jy daar hoor

Daar is musiek oral om ons heen
En al wat jy moet doen is om te luister
Somtyds die ore spits
Want baiemaal is die liedjie net ‘n fluister
Soos ‘n bries wat speel oor ‘n koringland
‘n Kriekekoor op ‘n warm someraand
Luister laat die geluide jou bekoor
Want dis die lied van die natuur wat jy daar hoor

Aan die punt van die vallei hoog in die berge 
Woon daar ‘n eggo alleen in ‘n klipspelonk 
Elke liedjie wat hy hoor sal hy uitkoggel 
Hy doen dit meesterlik vanuit sy tronk 
Gesing deur : Laurika Rauch. Woorde en Musiek: Johan Wessels (Kupido) 

::

Tuesday 25 February 2014

Eenvoudige oomblikke


Gewoonlik kan jy die groot, onvergeetlike oomblikke in jou lewe op een hand tel, maar dis die alledaagse, klein eenvoudige dingetjies in ons dag wat die lewe so lekker maak. Soos om 'n heerlike Cappuccino by die Wimpy te sit en drink, sommer so in die middel van die oggend. 

Hulle motto is mos "Enjoy every moment" en om sommer net so te sit en gesels is presies dit. Om elke eenvoudige oomblik te geniet. 



Op pad na die Wimpy...

Ek sê dankie vir alledaagse dinge... 

::

Thursday 20 February 2014

Bly kalm en gesond


Baie van ons sal nie hierdie winter verkoue en griep vryspring, dis juis wanneer die seisoene verander dat daardie lastige verkoue of hoes posvat. Kenners beweer dat heuning antibakteriese kenmerke het wat die bakterieë in die keel beveg.

'n Teelepel rou heuning voor slaaptyd laat jou rustiger slaap en verlig ook hoes. Jy kan ook 'n teelepel heuning met louwarm water meng en dit voor slaaptyd drink.


'n Kombinasie van heuning en suurlemoen vir die verligting van hoes was ook nog altyd gewild. Meng 'n halwe teelepel heuning met die sap van 'n vars suurlemoen en drink voor jy gaan slaap. Jy kan die mengsel ook bietjie verhit voor jy dit drink. Drink elke vier ure twee teelepels van die mengsel. Dit beveg ook keel irritasie.


Deesdae is dit taamlike 'n uitdaging om die spasie en tyd te vind om te ontspan. Hoe balanseer mens die uitdagings van ons alledaagse lewe?

(Foto en resep vanaf Everything Lavender)

'n Koppie tee kalmeer en verlig altyd. Laventeltee is 'n ideale ontspanningsmiddel en maklik om te maak.

Jy kan vars blomme pluk of gedroogde laventel gebruik.

3 Eetlepels vars laventelblomme of 1½ eetlepels droë laventelblomme
2 Eetlepels heuning (met suurlemoen indien verlang)

Om die tee te maak, gooi die blomme in 'n teepot en gooi in kookwater. Roer die heuning by. Laat trek vir 4 of 5 minute. Gebruik 'n teesiffie en bedien in pragtige tee koppies!

.

Tuesday 4 February 2014

My eie stukkie paradys


Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is...

Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.

 Jy sou lag as jy dit moet sien, dis gladnie 'n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis 'n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. 'n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou. 

Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie. 

Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter.

Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek... 



::

Saturday 1 February 2014

'n Wit vel papier...



::

‘n wit vel papier . ‘n nuwe sketsboek . wat sal ek doen

droom / sing / skryf / wag / dink / tuinmaak / gesels / skilder

ek het besluit om te skilder

::