Saturday 30 July 2016

Gee jou drome vlerke


Die lewe kan maar saai wees as jy nie gereeld vir jouself doelwitte stel nie. ’n Droom, maak nie saak hoe klein of groot nie, gee jou daardie ekstra motivering om ’n dag van roetine en ander verantwoordelikhede aan te pak. Jy weet wat ook al in die dag vir jou voorlê, sal jou nader aan jou eintlike ideale bring. Raak dus opgewonde oor die moontlikhede in die lewe en maak gereed om groot te dink en selfs nog groter te droom!

Maar sommige mense onderdruk hul drome al so lank dat hulle glad nie meer droom nie. Ander mense bestee weer so baie tyd aan hul dagdrome dat hul drome juis net dit bly: blote dagdromery. Slegs mense wat tot aksie oorgaan, het die vermoë om hul drome in realiteit te omskep.
En met aksie bedoel ek, maak tyd om uit te vind WAT jou droom is. Sit en skryf daaroor. Verander elke detail totdat dit vir jou perfek is. Probeer verskillende scenario’s en toets watter aspekte van jou drome jou die meeste opgewonde maak. Die drome waaroor jy passievol is, is meer geneig om ’n werklikheid te word.

Die volgende stap is om jou droom te beplan. Maak ’n lys van aksies wat maklik bereikbaar en doenbaar is. Maak dan daardie eerste oproep, registreer vir die kursus wat jy al so lank uitstel, of kontak ’n agent oor die moontlikheid van ’n nuwe werk.

As jy groot dinge wil bereik, moet jy besef elke dag is van belang. Doen dus elke dag iets wat jou nader aan jou droom sal bring. Só sal jy stadig maar seker al hoe nader aan jou doelwit en groot droom beweeg.

Monday 25 July 2016

Wanneer laas...?

.
Nou die dag sit ek op die stoep, beskou my tuin met al die voëltjies en insekte, net so besig met die lewe as al die motors wat verbygaan, êrens op pad na een of ander afspraak. Binne die huis het dit net so ywerig gegaan, stofsuiers en wasmasjiene wat raas en alles wat moet skoon kom voor die dag verby is.
Hier buite was dit effens toegetrek met ‘n ligte en aangename briesie.
.
Dit gebeur nie sommer dat ons net stilsit en toelaat dat die wêreld om ons verbygaan nie.
.
Hoekom nie?
.
Wat is so belangrik wat nie kan wag tot later nie? Hoekom moet die e-Pos onmiddellik beantwoord word? Moet ons rêrig al daardie artikels nou aanlyn lees? Al die boodskappe van andere, al die koerante en tydskrifte? Is dit nodig vir die Internet, televisie en radio om al die tyd aan te wees?
.
Gaan die lewe ons nie dalk verby wanneer ons ons gedagtes so super-besig hou nie? Ons mis wat in die pragtige wêreld om ons aangaan as ons gedurig oor die toekoms dink—wat ons moet doen, ons bekommernis oor wat dalk in die toekoms kan gebeur—of wat in die verlede gebeur het—wat ons verkeerd gedoen het of wat iemand anders verkeerd gedoen het, wat ons gesê het, of wat moes gebeur het.
.
Wanneer was die laaste maal dat jy ‘n stil oomblik ervaar het? Net gesit het in niks doen nie, na die see gestaar, gesien hoe die wind in die blare speel, na die voëltjies geluister het, gekyk hoe ‘n kers flikker of kinders dop gehou het terwyl hulle speel…?
.
 .
.
Hoekom dit nie vandag doen nie?
.

Saturday 23 July 2016

Ietsie vir die koue


Hierdie resep is een wat ek al jare gebruik en is nog altyd vir my ‘n ware staatmaker. Hier het ek dit bedien in 2 ou enamel blikborde uit my versameling.

Vir my is koue weer mos sopweer. Maar ek is nou nie van die ou garde, soos my ma, wat 9uur in die oggend die sop begin kook het en dan was dit reg vir aandete nie. Eintlik het sy die vorige aand al begin, as die resep bone of iets bevat het wat oornag in water geweek moes word. Ek leef mos in die “kitswêreld”, waar alles gou en onmiddelik moet plaasvind – ek bedoel, ons praat dan met ons vrinne op die internet, vanoor die hele wêreld, en alles binne minute!

Hierdie was ons aandete gisteraand, en alles gereed om op te skep en te geniet binne ‘n uur, tafel dek ingesluit!

Aartappelsop

Skil en sny 5 aartappels in stukke
1 medium ui, in stukke gesny
1 pakkie spek, gesnipper
1 hoenderaftrekselblokkie
1 houer room (opsioneel)
fyn gekapte vars pietersielie (opsioneel)
‘n bietjie olie/ botter vir braaidoeleindes
sout en peper na smaak

Braai die ui tot deurskynend. Voeg dan die spek by en braai totdat die spek
gaar is (moenie die spek bros braai nie!).

Voeg dan jou aartappels by die spek/ui mengsel en bedek die hele spul met
water.

Gooi die hoenderblokkie by. Kook die aartappels tot gaar. Laat ‘n bietjie
afkoel en verwerk daarna tot glad en romerig.

Verhit weer die sop tot kookpunt. As room gebruik gaan word, roer dit in net
voor bediening, maar die sop moet dan nie weer kook nie anders sal dit skei.

Toets vir sout en peper en versier met vars pietersielie en GENIET!

::

Thursday 21 July 2016

Verbaas en gelukkig!


Dit verbaas my altyd hoe gelukkig my tuin my maak. Hoe belangrik dit vir my is... Ek is gegrond hier, in my eie stukkie paradys.


Jy sou dalk lag as jy dit moet sien, dis gladnie 'n perfekte paradys nie! Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Dis 'n gebrekkige weergawe wat tyd en geduld nodig het om die skoonheid te sien. 'n Effense wilde, ongetemde weergawe wat my aan die wonder hou. Moeder Natuur verspil geen tyd om terug te neem wat hare is wanneer jou rug gedraai is nie.


Vol geheime en kleinode, modder en bloeisel, dorings en varings. Vol lewe. Selfs in winter. 


Maar noudat ek daaraan dink, dalk IS dit tog heeltemal perfek...



My amper 40-jaar oue perskeboom weier om op te gee - nuwe bloeisels dui op nog baie lewe in hierdie ou dame. Verlede jaar het die regterkantste tak mee gegee onder die gewig van al haar vrugte en dit lyk of sy weer hierdie somer haar bes gaan probeer!

.

Sunday 17 July 2016

Kaktus- en Vetplantversorging


Al kom vetplante oorspronklik uit dorre streke en gedy oor die algemeen in arm grond, is dit nie te sê dat hulle nie water of voeding moet kry nie. Vetplante is elke tuinier se droom. Elke verskillende plant bied iets besonders: Aan die persoon wat nog moet leer om plante aan die lewe te hou, tot die huiseienaar­ wat water wil bespaar!


Hoe dikwels moet hulle water kry?
Daar is nie ’n antwoord wat in alle gevalle geld nie. Daar is ’n direkte verband tussen water, lig, temperatuur, grondtoestande en vogtigheid. Hoe sterker die lig, hoër die temperatuur en minder die vogtigheid, hoe meer dikwels is water nodig. Die meeste kaktusse en vetplante het ’n aktiewe groeiperiode vir omtrent ’n 1/3 van die jaar. Tydens dié aktiewe periode kan gereeld natgegooi word en moet misstof toegedien word. Die aktiefste tyd vir die meeste kaktusse is in die lente en vroeg-somer.
Wanneer dié periode verby gaan, moet water minder gereeld gegee word soos die winter nader kom. Hulle het baie min water in die koue maande nodig. ’n Goeie natmaak een keer per week in warm weer en een keer per maand in die rusperiode is ’n goeie wegspringplek soos u u plant se behoeftes leer ken. ’n Ander benadering is om dit deeglik nat te maak wanneer die grond heeltemal droog is. As u twyfel, moenie water gee nie.

.
Hoe dikwels moet hulle voeding kry?
Te veel misstof kan slegter wees as glad geen misstof nie. Gebruik ’n misstof wat ’n lae stikstofinhoud het teen omtrent ½ tot ¼ van die aanbevole toediening.
.

Wat is die beste grond vir kaktusse en ander vetplante?
Die meeste potplantgrondmengsels wat in die handel beskikbaar is, is te ryk aan vars organiese materie vir dié plante. Die belangrikste faktor by die kies van ’n plantmedium is dat dit voedingstowwe, water en lug na die wortels moet deurlaat en poreus genoeg is om water te laat dreineer. Baie kaktuskwekers gebruik ’n vermenging van ’n lae veenplantmengsel en puimsteen (50/50). Sand, klein klippies en vermikuliet word ook deur baie suksesvolle kwekers bygevoeg. Eksperimenteer met verskillende kombinasies om die regte kombinasie vir u toestande te verkry. ’n Bolaag van fyngemaakte graniet of fyngruis lyk goed en hou ook voordele in. Dit keer dat die bogrond vinniger as die res van die grond in die pot uitdroog, hou die basis van die plant droog en help met die egalige verspreiding van water.

.
Direkte son en lig is nie dieselfde nie!
Vetplante het lig nodig, maar hulle groei beter as hulle nie in die middagson bak nie. In die natuur sal u jong plante aantref onder ’n bos, boom of iets anders wat gefilterde lig deurlaat. As nuwe groei aan u plant bleekgroen en ekstra lank is, het dit meer lig nodig. As die kant van u plant wat na die ligbron wys, geel, bruin, rooi of ingekeep is, kry dit te veel lig.

.
Vetplante hou nie van dooie lug nie. Voorsien goeie lugsirkulasie vir u plante.


::

Wednesday 13 July 2016

Tee (en koffie) is nie net vir gesondheid nie


Tee (en koffie) is nie net vir gesondheid nie! Het jy geweet jy kan met tee en koffie skilder? Tee (swart) gee ‘n lieflike ligte agtergrond vir die skildery en koffie (swart en sterk! Ek gebruik Nescafé kitskoffie) gee die pragtigste ryk en glansende donkerbruin skakerings.

Gebruik ‘n goeie gehalte waterverf papier (ek gebruik meesal Bockingford 300gsm, dis dik en frommel nie maklik wanneer dit nat word nie). Maak ‘n koppie sterk, swart tee en laat afkoel. Gebruik ‘n taamlike groot verfborsel en bedek die hele bladsy met die tee. Sodra dit droog is, kan jy begin met die koffie. Ek skets gewoonlik my prentjie eerste, die tee bedek nie die lyne nie.

Verf dan met jou koffie ‘n stuk donkerder agtergrond (jy kan die tee-agtergrond bo links in die skildery sien uitsteek) en verf dan jou skets met die koffie waar jy gewoonlik al die kleure sou sit. Maak seker jou eerste hale is donker genoeg, die koffie hou nie daarvan om weer bo-op geverf te word as dit eers droog is nie.

Eksperimenteer ‘n bietjie met die tee en koffie voor jy jou skildery aanpak. Verf koffie op koffie terwyl dit nat is, verf koffie op koffie wanner dit droog is, dan kan jy die verskillende effekte waarneem.

Geniet en wys vir ons wanneer jy klaar is!

Sunday 20 December 2015

Hoe wonderlik!


om ...

vanoggend by die venster uit te kyk.
die duifies te hoor koer.
buite te loop en die son op my gesig te voel.
iemand 'n lief-drukkie te gee.
te glimlag vir 'n vreemdeling.
iets gaafs en onverwags te doen.
te luister.
diep asem te haal.
geduldig te wees.
in die donker te sit en die Kersboom te geniet.
geskenke toe te draai met liefde in plaas van ongeduld.
te gee.
meer te gee.

Nie geskenke nie, liefde.

Friday 20 November 2015

Kaalvoet in die reën


Na die eerste heerlike reën van die seisoen, is dit vandag 'n pragtige blou, koel somersdag en my gedagtes gaan terug na my jong dae in die laat 1950's toe ons as kinders na elke reënbui buite in die waterpoele gaan speel het, kaalvoet en sonder sorge. Uitbundig gelag en mekaar met die water bespat en dit het nie saak gemaak dat ons vol modder geword het of dat ons klere besmeer was nie (daar was mos ordentlike "Surf" in daardie dae) - en in daardie dae is ons gedurig aangemoedig om buite te gaan speel.

En eintlik het ons nie 'n ander keuse gehad nie - geen TV, geen rekenaars en geen selfone of X-box nie, ons moes ons self vermaak. Hop-skotch, kennetjie, leap frog, draadkarretjies wat ons self gemaak het en rond gestoot het op "dorpstrate" wat ons in die sand gemaak het, vlieërs gevlieg, bome geklim en gespeel ons is Tarzan, veldblommetjies bymekaar gemaak om huistoe te vat vir Ma is maar 'n paar van die goed waarmee ons onsself besig gehou het.

En dis hoe ek vroeg vanoggend gevoel het, lus om kaalvoet in die poele water te plas. Of 'n vlieër in die sterk briesie te vlieg. Ek het my pantoffels in die huis gelos en kaalvoet oor die gras geloop na die reënmeter om te sien hoeveel ons gehad het. Gisteraand se stormagtige 28mm reën het die aarde goed gedoen, en my siel ook. Dis sommer asof al die spinnerakke weg gewas is tesame met die verskriklike hitte wat ons die afgelope weke ondervind het. Die dor aarde verdor sommer jou menswees ook, maak dat jy lus is vir niks. Ek kon aan niks kom nie en was net so verlep soos my Krismisrose. Maar nou staan hulle almal weer regop, verfris na daai hemelse water en

Ek wil dans
kaalvoet in die reën.
wil die druppels tel
een vir een.
Die reuk van grond nat,
water wat teen die ruite spat.
Die weer se gedonder,
God se wonder.
Dan raak dit binne stil,
en laat die prag
die leemte vul.
Weg al die kommer
en seer
dan breek die strale deur.
Aangehuppel
oor die laaste druppel.
Dit lag binne my
skoongewas en vry!
-

 

Thursday 29 October 2015

Hoe leef jy - elke dag?


Ons weet almal van “leef elke dag asof dit jou laaste is” en dit op sigself is moeilik genoeg. Hoe sê hulle, “life happens”. Ons is gejaagd, dinge moet gedoen word, en baie gou is ons hele lewe, en huis, bietjie deurmekaar.

Maar nou, ek het hierdie vriendin wat vir my sê sy leef elke dag asof kuiergaste kom! Dinge moet altyd mooi reg gepak wees, skoon en afgestof wees, daar moet altyd blomme op die tafel wees, vars gebakte koekies in die blikke en vars brood om te bedien. Hoeveel ure het sy in die dag wat ek nie het nie?!

Dit neem al my tyd en energie in beslag om te sien dat daar nie TE veel stof is nie, dat die kaste darem so elke nou en dan bietjie reg gepak word, dat die tafels en kaste nie oorgeneem word deur dinge wat mens sommer net neersit nie, dat daar darem kos in die yskas is en dat die stoorkamer darem netjies is. EN ek het huishulp en geen kinders in die huis nie!

Want daar is ander dinge in die lewe wat gebeur - soos skilder, tuinwerk, boeke om te lees, diere om na om te sien, blogs wat geskryf en gelees moet word, en kantoorwerk wat gedoen moet word. Hoe op aarde bly mens by met alles?

En tog doen ons dit. Want ons weet dat, 99% van die tyd gaan vandag NIE ons laaste dag wees nie en 99% van die tyd gaan daar NIE kuiergaste opdaag nie. En as die laaste dag van my lewe of ’n onverwagse kuiergas my vang met ’n deurmekaar huis of liasseerwerk wat nog nie gedoen is nie of stof op die tafel, so be it. Ek weet ek het elke dag ten volle geniet en benut en dit wat oorbly, moet maar wag tot ’n volgende keer.

Sunday 25 October 2015

Groot opwinding elke jaar!



Elke jaar is dit dieselfde vir my - groot opwinding in September, want dan kom my Grootstreepswaeltjies terug vanaf mid-Afrika - dan WEET 'n mens somer is hier! Maar hierdie jaar het hulle eers middel-Oktober opgedaag, en ek was baie bekommerd dat hulle nie hierdie jaar gaan terug kom nie.

Wanneer hulle almal begin saamtrek in die hemel en in lang rye op die telefoondrade sit in April of vroeg-Mei, dan weet ek ook ons winter is op pad...

 W&N waterverf op Bockingford 300gsm - ©Maree Clarkson

In die somermaande word Suid-Afrika se voëlbevolking met sowat 120 spesies versterk wat tot van Eurasië en die Midde-Ooste kom. Daar is selfs migrasies uit Midde-Afrika en Madagaskar. So is dit dan ook in Oktober dat ek wag vir die Piet-My-Vrou se geroep, een van die trekvoëls wat ook nie Afrika verlaat nie. Sy geroep, wat soms 3uur in die oggend begin en partymaal dwarsdeur die nag kan strek, is ook vir my 'n sekere teken dat die somer hier is.

Die voëls wat tydens ons winter wegtrek wissel van arende, valke, koekoeke en swaels tot van die reiers, ooievaars, eende, kwartels, riethane, sprinkaanvoëls, naguile, visvangers, byevreters, troupante, sangers, laksmanne en verskeie van die waadvoëls wat 'n mens by die vlak water aan ons strande of aan die oewers van ons damme of riviere kry. En elke jaar staan ek verstom en vol weemoed wanneer ek die samekomste waarneem en die groot wegtrek aanskou, wie weet hoeveel van hulle gaan dit maak en weer terug kom...?

::

die hemelblou is vir jou
pasop vir dit wat jy nie weet
laksman valk, aasvoel en arend
daar is baie wat jy nog nie van vere af weet nie
vlieg swaeltjie, vlieg!
- onbekend

.