Wys tans plasings met die etiket kinderdae. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket kinderdae. Wys alle plasings

Vrydag 20 November 2015

Kaalvoet in die reën


Na die eerste heerlike reën van die seisoen, is dit vandag 'n pragtige blou, koel somersdag en my gedagtes gaan terug na my jong dae in die laat 1950's toe ons as kinders na elke reënbui buite in die waterpoele gaan speel het, kaalvoet en sonder sorge. Uitbundig gelag en mekaar met die water bespat en dit het nie saak gemaak dat ons vol modder geword het of dat ons klere besmeer was nie (daar was mos ordentlike "Surf" in daardie dae) - en in daardie dae is ons gedurig aangemoedig om buite te gaan speel.

En eintlik het ons nie 'n ander keuse gehad nie - geen TV, geen rekenaars en geen selfone of X-box nie, ons moes ons self vermaak. Hop-skotch, kennetjie, leap frog, draadkarretjies wat ons self gemaak het en rond gestoot het op "dorpstrate" wat ons in die sand gemaak het, vlieërs gevlieg, bome geklim en gespeel ons is Tarzan, veldblommetjies bymekaar gemaak om huistoe te vat vir Ma is maar 'n paar van die goed waarmee ons onsself besig gehou het.

En dis hoe ek vroeg vanoggend gevoel het, lus om kaalvoet in die poele water te plas. Of 'n vlieër in die sterk briesie te vlieg. Ek het my pantoffels in die huis gelos en kaalvoet oor die gras geloop na die reënmeter om te sien hoeveel ons gehad het. Gisteraand se stormagtige 28mm reën het die aarde goed gedoen, en my siel ook. Dis sommer asof al die spinnerakke weg gewas is tesame met die verskriklike hitte wat ons die afgelope weke ondervind het. Die dor aarde verdor sommer jou menswees ook, maak dat jy lus is vir niks. Ek kon aan niks kom nie en was net so verlep soos my Krismisrose. Maar nou staan hulle almal weer regop, verfris na daai hemelse water en

Ek wil dans
kaalvoet in die reën.
wil die druppels tel
een vir een.
Die reuk van grond nat,
water wat teen die ruite spat.
Die weer se gedonder,
God se wonder.
Dan raak dit binne stil,
en laat die prag
die leemte vul.
Weg al die kommer
en seer
dan breek die strale deur.
Aangehuppel
oor die laaste druppel.
Dit lag binne my
skoongewas en vry!
-

 

Woensdag 08 April 2015

Droomdae


 "Albasini-dam" waterverf op Bockingford 300gsm

Herinneringe kan niemand ooit van n mens wegvat nie. Uit die oorvloed herinneringe wat elke mens in sy hart ronddra, put ons daagliks baie plesier. Klein onthoudingetjies van geliefde persone wat nie meer by ons is nie is soos helderbont krale in ’n halssnoer en ons dra dié onsigbare halssnoere daagliks met ons saam.

Ek is in Johannesburg gebore en was in Gr.I en II in Gauteng op skool. Toe het ons Pietersburg toe getrek waar ek St. I & II geslaag het. Ek moes seker toe so nege of tien jaar oud gewees het. Ons het in Pleinstraat gewoon – dis hier waar my liefde vir diere en die natuur begin het.

My pa het dikwels huistoe gekom met een of ander diertjie: n trapsuutjie, ’n meerkat, selfs slange, krimpvarkies, beseerde voëltjies, wilde katjies. Eenkeer het hy selfs ’n pasgebore witstinkmuishond wie se ma deur ’n kar doodgetrap is, aangedra huistoe. Dan het ek die arme diertjies opgepas en met my pa se hulp weer gesond gekry (meestal met die hulp van boererate) en weer in die natuur vrygelaat.

Nie alle reddingspogings was altyd ewe geslaagd nie. Ek onthou toe n krimpvarkie wat ek vir drie weke liefdevol gedokter het (die honde het hom bygekom en sy hele neus en mondjie afgekou) tog nie oorleef het nie en my pa my tussen my snikke deur getroos het. Hy het gesê het dat die natuur wreed kan wees maar dat dit ’n feit is wat ons maar altyd moet onthou. Ons moet maar net ons bes doen. Daarna was daar nog altyd hartseer wanneer ons ’n diertjie verloor het, maar ook aanvaarding en berusting dat sulke dinge wel gebeur. Hy het my ook geleer dat mens nie onnodig met die natuur moet inmeng nie en, waar moontlik, dinge aan Moeder Natuur moet oorlaat.

Ek het baie saam met hom rondgery en dan het ons gaan visvang. My ma het vir ons ‘n heerlike mandjie vol lekkernye gepak – vars, tuisgebakte brood, koue aartappels met hulle skille aan, gekookte eiers, frikkadelle en ’n fles vol heerlike koffie. My pa het die babers wat ons gevang het skoongemaak en in groot ronde ’steaks’ gesny en op die kampvuur gebraai, ’n heerlikheid!

Albisinidam was een van ons gunstelingplekke. Ons het altyd baie seekoeie daar gesien en kon ek na stories luister van wat hierdie dier so spesiaal en gevaarlik maak soos die feit dat hulle ons waterweë skoon en oop hou en vloei verseker vir al die ander diere. My pa het altyd gesê ’n seekoei in ’n slegte bui is gevaarliker as ’n renoster! Ek onthou nog so goed die storie wat my pa ons vertel het oor hoe hy en sy maats gaan visvang het en een nag bo-op die bakkie se dak moes deurbring a.g.v. ’n onvergenoegde seekoei wat net niks van die kampvuur gehou het nie!

Langs dié waters het ek my eerste sketse begin doen terwyl ons gesit en visstokke dophou het – my pa het altyd blomme, blare en takke gepluk. Hy het ’n wonderlike kennis van plante en die veld gehad. Ek het al sy stories daaraan verbonde: waarvoor dit gebruik is deur die Pedi’s, vir watter siektes en ongesteldhede, met groot belanbgstelling aangehoor. Dan het ek nota’s gemaak en sketse gedoen.

Ons het ook insekte opgespoor: sprinkane, miere, skerpioene, motte en spinnekoppe. Dis toe dat ek geleer het om nie bang of grillerig te wees nie, want as jy iets moes vang moes dit VINNIG gebeur, anders is die oomblik verlore!

Op ons uitstappies het ons altyd halt geroep by kremetartbome en die kremetarte bymekaar gemaak om huistoe te vat. Ons het ook maroelas bymekaar gemaak en haastig in die kar gespring wanneer die bobbejane opdaag om hierdie lekkernye te kom geniet. Ons het vir ure in die kar gesit en lag oor hulle mannewales – die oorryp vrugte wat begin gis het, het ’n alkoholiese uitwerking op hulle gehad en dan het hulle rondgeslinger soos wafferse dronk mense!

My Ma het konfyt gekook van die maroelas. Ek het NIKS daarvan gehou nie! Maar ons MOES ’n paar teelepels vol eet, dis goed vir ons het my pa altyd gesê… en om die smaak van die kasterolie, wat ons elke Vrydagaand moes drink, weg te vat.

Ons het n kanariehok gehad in Pietersburg met die pragtigste kanaries – geles, pienkes, rooies (dié kleure is verkry deur iets wat by die drinkwater gevoeg word) en party met wilde haarstyle, vere wat penregop op die kop gestaan het of plat gedruk was soos ’n pannekoek! Een van die dinge wat my pa die meeste ontstel het was die miere! ROOImiere wat teen die hok opgeklim het en die pasgebore voëltjies aangeval en doodgemaak het. Die hok het op stelte gestaan. ’n Boer maak ’n plan – konfytblikke gevul met water onder elke poot en siedaar! Geen mier kon meer die voëltjies bykom nie!

Ons buite-yskas was n houtkas met dubbeldraad, gevul met steenkool en waardeur water permanent gevloei het. Dit het ons eiers, melk, botter en ander eetware perfek koel en vars gehou. Dié yskas het ek en my pa self gebou en dit het my geleer dat NIKS onmoontlik is nie – waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.

Ons het ook n groentetuintjie gehad en ons kon ure daar deurbring slaaikoppe, kool, wortels, tamaties, groenboontjies, uie, beet en ertjies, selfs ’n paar blommetjies soos Kappertjies en Afrikaners. My pa het geglo dit hou die goggas weg. Hy het my geleer dat gifstowwe onnodig is en dat alle hulpmiddels in die natuur te vinde is. En my ma kon tóór met daardie groente! Tot vandag is groenboontjies met uie en aartappels een van my geliefkoosde disse.

As iemand my sou vra of ek my lewe sou wou oorhê, sal ek beslis ja sê, veral daardie wonderlike dae in die Noord-Transvaal en die oorvloed herinneringe wat dit my besorg het.