Wys tans plasings met die etiket oorvloed. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket oorvloed. Wys alle plasings

Sondag 04 Januarie 2015

'n Voorspoedige en voldane lewe



Om voldaan te lewe is om elke oomblik bewustelik te lewe. Dit is om self-gemaakte lyding te verwissel vir vrede deur aanvaarding en om toe te laat dat liefde angs vervang deur stilte van vrede.

Die lewe word nie bepaal deur wat met ons gebeur nie; dit word bepaal deur hoe ons hierdie ondervindings gebruik om hierdie 'n beter wêreld te maak. Ons bestemming word nie bepaal deur die paadjies wat ons ge-erf het nie, maar deur die paadjies wat ons self  uittrap.           

Binne elke storm van die lewe is 'n sleutel wat nog 'n deur sal oopsluit  waardeur jy moet loop.

Om rustig te lewe bedoel nie  dat ons wegskram van probleme of die verpligting om hulle op te los nie.  Net die teenoorgestelde  ons vind die helderheid en teenwoordigheid van gees om die daaglikse dinge meer konstruktief en positief te hanteer.    

As jy 'n begeerte het wat jy nie kan versaak nie, dan het jy die eerste bestanddeel vir  prestasie: 'n droom. Jou droom is al wat jy nodig het om te begin; dit is jou plan vir die toekoms.

Voorspoedige mense is in lyn met die lewe op 'n manier wat oorvloed aantrek. Hulle is in lyn met visie en begeerte, en hulle gooi nie tou op nie. Om aan te hou is om in die rigting van harmonie met die lewe te beweeg.

Ons kan kies om in die verlede te bly of ons kan die lewe deur die oë van 'n kind sien met nuutheid, vreugde en die opwinding van avontuur.  As ons fokus op wat ons dink is 'n toekomstige eindlyn, dan mis ons iets spesiaals: vandag se klein oorwinnings.

Om hierdie oomblikke van vreugde te ontdek is een van die lewe se mees belonende avonture!

Donderdag 15 Mei 2014

Is ons Afrikaners verbeeldingloos?


Hoekom is dit dat, wanneer ek mooi woorde soos oorvloed, inspirasie, liefde, hoop, seëninge en nog vele ander in Afrikaans Google, ek net op bladsye en bladsye vol bybelverse en troufoto’s afkom? Die woord ‘Inspirasie” neem my na ‘Trou inspirasie’, ‘ons daaglikse seëninge’, ‘inspirasie oor gebede en geloof’, ‘inspirerende boodskappe van god’ en ‘christelike inspirasie’ en daar is omtrent nie ‘n artikel wat nie na een of ander bybelvers verwys nie. Waar is al die mooi inspirerende aanhalings in Afrikaans? Vir die woord ‘oorvloed’ kry ek (behalwe my eie webwerf “OORVLOED”) bladsye en bladsye vol bybelse aanhalings, maar niks wat die woord “abundance” uitbeeld nie. Dieselfde met liefde, hoop en seëninge.

Is ons Afrikaners so verbeeldingloos dat ons oor niks anders behalwe geloof en die bybel kan skryf en dink nie? (“Geloof” (belief) is nog ‘n woord wat ALLEENLIK net met die bybel te doen het as jy dit Google.) Of is ons Afrikaners so behep met geloof dat ons in geen ander rigting kyk nie, oor niks anders kan skryf of niks anders in die lewe kan ondervind nie omdat dit ons dalk op een of ander manier sal aantas of besoedel?

Ek soek na die mooi in Afrikaans, mooi en inspirerende artikels om in Afrikaans te lees oor oorvloed en inspirasie en hoop – maar blykbaar word hierdie woorde net in ‘n bybelse konteks gesien. Glo Afrikaners nie dat ons in oorvloed (abundance), met baie geld EN geluk, kan leef nie? Glo hulle nie dat oorvloed, in die vorm van geld en aardse besittings, ons geboorterg reg is nie?

Die verbeeldingloosheid gaan ‘n tree verder met die woord ‘heelal’ (universe). Behalwe vir ‘Mej. Heelal’ en bladsye en bladsy vol wetenskaplike beskrywings, is daar omtrent nie ‘n enkele inspirerende artikel oor daardie woord nie. Of is die woord ‘heelal’ dalk nie deel van ons Afrikaanse denkwese nie?

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek kraak glad nie enigiemand se geloof hier af nie. Ek glo in vrye denkwese en vryheid om enige geloof wat jy wil na te volg. Ek praat van verbeeldingloosheid in ons skryfsektor aangaande hierdie spesifieke woorde. Daar is baie ander woorde ook – meester, duiwel, verlossing, skep of skepping (create, creation), self liefde en affirmasie (‘n anglisisme vir Affirmation) en ek kan aan en aan gaan.

Ek weet Google gee mens resultate gebasseer op jou soek-geskiedenis en ek weet daar is mooi Afrikaanse artikels hier êrens op die net, maar definitief nie onder die woorde wat ek hier bo genoem het nie…

.

Vrydag 09 Mei 2014

Stap 'n myl in my skoene...

Foto vanaf 'Spel & the Gypsy'

en ek sal vandag 'n myl in jou skoene stap en verstaan...

.

Sondag 24 November 2013

Dankbaar vir droomdae...

"Albasini-dam" waterverf op Bockingford 300gsm 

Herinneringe kan niemand ooit van ’n mens wegvat nie. Uit die oorvloed herinneringe wat elke mens in sy hart ronddra, put ons daagliks baie plesier. Klein onthoudingetjies van geliefde persone wat nie meer by ons is nie is soos helderbont krale in ’n halssnoer en ons dra dié onsigbare halssnoere daagliks met ons saam. 

Ek is in Johannesburg gebore en was in Gr.I en II in Gauteng op skool. Toe het ons Pietersburg toe getrek waar ek St. I & II geslaag het. Ek moes seker toe so nege of tien jaar oud gewees het. Ons het in Pleinstraat gewoon – dis hier waar my liefde vir diere en die natuur begin het. 

My pa het dikwels huistoe gekom met een of ander diertjie: ’n trapsuutjie, ’n meerkat, selfs slange, krimpvarkies, beseerde voëltjies, wilde katjies. Eenkeer het hy selfs ’n pasgebore witstinkmuishond wie se ma deur ’n kar doodgetrap is, aangedra huistoe. Dan het ek die arme diertjies opgepas en met my pa se hulp weer gesond gekry (meestal met die hulp van boererate) en weer in die natuur vrygelaat. 

Nie alle reddingspogings was altyd ewe geslaagd nie. Ek onthou toe ’n krimpvarkie wat ek vir drie weke liefdevol gedokter het (die honde het hom bygekom en sy hele neus en mondjie afgekou) tog nie oorleef het nie en my pa my tussen my snikke deur getroos het. Hy het gesê het dat die natuur wreed kan wees maar dat dit ’n feit is wat ons maar altyd moet onthou. Ons moet maar net ons bes doen. Daarna was daar nog altyd hartseer wanneer ons ’n diertjie verloor het, maar ook aanvaarding en berusting dat sulke dinge wel gebeur. Hy het my ook geleer dat mens nie onnodig met die natuur moet inmeng nie en, waar moontlik, dinge aan Moeder Natuur moet oorlaat. 

Ek het baie saam met hom rondgery en dan het ons gaan visvang. My ma het vir ons ‘n heerlike mandjie vol lekkernye gepak – vars, tuisgebakte brood, koue aartappels met hulle skille aan, gekookte eiers, frikkadelle en ’n fles vol heerlike koffie. My pa het die babers wat ons gevang het skoongemaak en in groot ronde ’steaks’ gesny en op die kampvuur gebraai, ’n heerlikheid! 

Albisinidam was een van ons gunstelingplekke. Ons het altyd baie seekoeie daar gesien en kon ek na stories luister van wat hierdie dier so spesiaal en gevaarlik maak soos die feit dat hulle ons waterweë skoon en oop hou en vloei verseker vir al die ander diere. My pa het altyd gesê ’n seekoei in ’n slegte bui is gevaarliker as ’n renoster! Ek onthou nog so goed die storie wat my pa ons vertel het oor hoe hy en sy maats gaan visvang het en een nag bo-op die bakkie se dak moes deurbring a.g.v. ’n onvergenoegde seekoei wat net niks van die kampvuur gehou het nie! 

Langs dié waters het ek my eerste sketse begin doen terwyl ons gesit en visstokke dophou het – my pa het altyd blomme, blare en takke gepluk. Hy het ’n wonderlike kennis van plante en die veld gehad. Ek het al sy stories daaraan verbonde: waarvoor dit gebruik is deur die Pedi’s, vir watter siektes en ongesteldhede, met groot belanbgstelling aangehoor. Dan het ek nota’s gemaak en sketse gedoen. 

Ons het ook insekte opgespoor: sprinkane, miere, skerpioene, motte en spinnekoppe. Dis toe dat ek geleer het om nie bang of grillerig te wees nie, want as jy iets moes vang moes dit VINNIG gebeur, anders is die oomblik verlore!

 
Twee Oranje-geverfde Kremetart-peule langs 'n ou stomp en 'n versameling spoelklippe

Op ons uitstappies het ons altyd halt geroep by kremetartbome en die kremetarte bymekaar gemaak om huistoe te vat. Ons het ook maroelas bymekaar gemaak en haastig in die kar gespring wanneer die bobbejane opdaag om hierdie lekkernye te kom geniet. Ons het vir ure in die kar gesit en lag oor hulle mannewales – die oorryp vrugte wat begin gis het, het ’n alkoholiese uitwerking op hulle gehad en dan het hulle rondgeslinger soos wafferse dronk mense! 

 My Ma het konfyt gekook van die maroelas. Ek het NIKS daarvan gehou nie! Maar ons MOES ’n paar teelepels vol eet, dis goed vir ons het my pa altyd gesê… en om die smaak van die kasterolie, wat ons elke Vrydagaand moes drink, weg te vat. 

Ons het ’n kanariehok gehad in Pietersburg met die pragtigste kanaries – geles, pienkes, rooies (dié kleure is verkry deur iets wat by die drinkwater gevoeg word) en party met wilde haarstyle, vere wat penregop op die kop gestaan het of plat gedruk was soos ’n pannekoek! Een van die dinge wat my pa die meeste ontstel het was die miere! ROOImiere wat teen die hok opgeklim het en die pasgebore voëltjies aangeval en doodgemaak het. Die hok het op stelte gestaan. ’n Boer maak ’n plan – konfytblikke gevul met water onder elke poot en siedaar! Geen mier kon meer die voëltjies bykom nie! 

Ons buite-yskas was ’n houtkas met dubbeldraad, gevul met steenkool en waardeur water permanent gevloei het. Dit het ons eiers, melk, botter en ander eetware perfek koel en vars gehou. Dié yskas het ek en my pa self gebou en dit het my geleer dat NIKS onmoontlik is nie – waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. 

Ons het ook ’n groentetuintjie gehad en ons kon ure daar deurbring – slaaikoppe, kool, wortels, tamaties, groenboontjies, uie, beet en ertjies, selfs ’n paar blommetjies soos Kappertjies en Afrikaners. My pa het geglo dit hou die goggas weg. Hy het my geleer dat gifstowwe onnodig is en dat alle hulpmiddels in die natuur te vinde is. En my ma kon tóór met daardie groente! Tot vandag is groenboontjies met uie en aartappels een van my geliefkoosde disse. 

As iemand my sou vra of ek my lewe sou wou oorhê, sal ek beslis ‘ja’ sê, veral daardie wonderlike dae in die Noord-Transvaal en die dankbaarheid wat ek in my hart voel vir die oorvloed herinneringe wat dit my besorg het.

::