Sondag 13 Oktober 2013

Bosveld gedagtes

Foto geneem by Thaba Monaté naby Bela-Bela gedurende 'n besoek 'n paar jaar gelede 

Gedagtes van die bosveld, skone velde en natuurskoon wat die hart laat rustig verkeer. Drome van vlaktes en wild en vryheid. Van voëls en anderse bome. Dis waar my gedagtes deesdae is. 

Ons bly al dekades op ons kleinhoewe in Tarlton en toe ons in die mid-70's hierheen verhuis het, was ons die enigste inwoners vir myle. Maar stadig oor die jare het vooruitgang sy tol geneem en is ons nou deur mense omring aan alle kante. Al die inheemse bome is afgekap om plek te maak vir 'n huis, die tarentale is nêrens meer te sien nie en die uile is skaarser as hoendertande. 

Ons is geleë op die hoofpad tussen Krugersdorp en Magaliesburg op pad na Botswana en destyds was dit maar net 'n smal, swak-geteerde teerpad met min verkeer. Maar dit is al 3 of 4 maal opgegradeer as gevolg van al hoe meer verkeer en dit klink deesdae soos Eloffstraat op 'n Saterdagoggend en dreun enige natuurlike klanke heeltemal uit. 

Nou hunker my hart na die verte van die bosveld, weg van mense, weg van die verkeer en weg van die beskawing. 

Maar dalk is ek net vandag in 'n slegte bui, dalk is ek net ondankbaar vir al die seëninge wat ek wel het, dalk is dit net Sondagmiddag hunkeringe - miskien voel ek môre beter... 



Om die kampvuur by Thaba Monaté 

::

Bokant alle hange
is rus,
loerie se gesange
vaak gesus, 
net soos die wind
wat loom sy lê in kriebos kry;
wag net, ook jy
sal gou rus vind!
—Verafrikanisering deur Dugeot van die Duitse digter Goethe se "Über allen Gipfeln" 


Sonsondergang oor die Waterberge - Foto geneem deur Rudi Janse van Vuuren© 

:: 

Donderdag 10 Oktober 2013

Au, sorry oumies!


Vanoggend sit ek voor my lessenaar besig om 'n paar verjaarsdagkaartjies te ontwerp en ek dink, "Maree, jy word oud!" Dit na aanleiding van die feit dat ek myself verlede week half disnis in die tuin geval het en amper my stuitjie gebreek het.

Oud word is nie 'n gedagte wat ek OOIT koester nie. Dis nie iets waaroor ek ooit dink nie. Seker omdat ek op sewe-en-sestig min skete het en omtrent nooit siek word nie, kannie onthou wanneer laas ek 'n verkoue gehad het nie. En ek voel nog dieselfde as wat ek op dertig of veertig of vyftig gevoel het.

Behalwe vir die feit dat ek nie meer so rats is as wat ek eens op 'n tyd was nie. Kannie meer die boom klim om die uil-nesbokse op te sit nie, kannie meer so fluks 'n hoender jaag en vang nie en kan ook nie meer oor die lae muurtjie agter die huis spring as ek 'n kuiken in nood hoor nie.

Die stuitjie-storie het gebeur omdat ek tussen 'n klomp blomme in die tuin gestaan het waar ek en Chrissie besig was om 'n paar plantjies te plant. Toe ek versigtig, sodat ek die blommetjies nie vertrap nie, agteruit tree om uit die blomme te kom, toe hak my voet agter 'n klip vas en slaat ek soos 'n os neer, bo-op 'n hoop klippe, reg op my stuitjie.

Die vernedering was erger as die pyn! En die uitdrukking van verskrikking op Chrissie, my tuinhulp, se gesig het my vinnig laat opspring om haar te paai en te verseker dat ek OK is. Sy konnie genoeg "Au, sorry oumies, sorry oumies" sê nie en ek moes haar omtrent 'n glas water gee vir die skok. Weet nie wie het groter geskrik nie, ek of sy!

Ek het die huis binne gestrompel en onmiddellik my Arnica-olie gesoek en aangesmeer maar ek het geweet die groot pyn gaan daardie aand kom. En dit het. Kon nie sit nie, kon nie op my rug lê nie, kon skaars beweeg. Maar na 'n lekker warm bad het ek uiteindelik aan die slaap geraak en gehoop dat dit die volgende dag beter sal wees.

Dit het 'n paar dae geneem en ek is nou amper volkome herstel, maar met 'n nuwe besef van hoe verganklik die lewe is. Mens hoor so baie van "ou" mense wat val en 'n heup of iets breek. Ek kan nog steeds nie glo dat ek so gelukkig was as om amper skotvry daarvan af te kom sonder enige nagevolge nie.

En een ding is seker, iets wat jy NIE van my gaan hoor is dat ek uit 'n boom geval het nie!

. 
 

Sondag 06 Oktober 2013

Dis 'n stil, warm Sondagmiddag in die hotel op Klawer

Ink skets en waterverf op DalerRowney 200gsm sketspapier - Maree© 

Dis stil. Die vlaktes wens vir 'n bietjie wind. Miskien selfs eendag 'n flentertjie reën. Maar dis veertig grade en die son regeer soos 'n genadelose diktator. Daar is nie 'n siel op straat nie. Hier weet die siele al om weg te bly as dit veertig grade is. Hier weet siele instinktief om versigtig te wees vir warm plekke. Dis 'n goeie ding om te weet. Ja, die siele kruip weg. Daarom dat die son vandag alleen op straat is. Niemand saam met hom nie. Want hy kan wreed wees, veral as jy net jou eie skaduwee het om in te skuil. Die ander skaduwees het al geleer, bly uit die strate uit. Hier kom jy eers ná donker uit. Kom doen jou ding in die maanskyn. Of miskien in die reën. Daar kom dalk eendag weer 'n bietjie reën.

Dis stil. en dis warm. Die hotel wens heimlik vir 'n rol in 'n Wilde Weste-fliek. Hy oefen al jare. In die son. In die dorre son. En met die stories wat hy aand na aand in sy kroeg hoor en sien, weet hy hy is gereed. Hy ken die lewe. Hy ken al die hartseer stories. Die manne kom. En hier kom praat hulle. Die wat nie stil is nie. Want hulle kom sit eenkant. En hulle vertel hul stories sonder om te praat. Dis hoe dit hier is.

(Uittreksel uit "Laaste sê" deur Koos van der Merwe in die Junie 2012 uitgawe van Sarie tydskrif, Suid Afrika)

.

Saterdag 05 Oktober 2013

Skoonheid lê in eenvoud


Skoonheid lê in eenvoud
dit hét ons al gehoor:
maar met gewone woorde
het jy my siel bekoor
- Uittreksel uit 'Prost' - Elizabeth Kendall

Een van my waterverf Varkore met 'n gedig van Elizabeth

::


Maandag 30 September 2013

'n Tyd om aan te vul


'n Week sonder kreatiwiteit - nee, langer as 'n week... en die snaakse ding is dat ek eintlik verbaas is dat ek nie skuldig voel daaroor nie. Met 'kreatiwiteit' bedoel ek skets en skilder. Gewoonlik voel ek ongemaklik, al asof iets kortkom, as ek vir 'n paar dae nie geskilder of geteken het nie. Hierdie keer is dit anders - 'n stilte het sommer net neer gedaal... 

Ek het vir die afgelope twee jaar elke dag van my lewe iets geskilder, al was dit net 'n klein sketsie in een van my skets-joernale. Dit was soos tande borsel en iets wat ek verskriklik geniet. Maar oor die afgelope paar weke het my gedagtes, en hande, in ander rigtings begin beweeg - bietjie aandag gegee aan my huis se dekor; die tuin, wat 'n hele winter verwaarloos was, begin opgeknap; klein instandhoudingstakies wat lank verwaarloos was, weer aangepak en van my te-doen-lysie afgeskraap.


Ek maak ook gebruik van hierdie 'stil' gevoel wat oor my gedaal het om weer my yoga te beoefen, ook iets wat in die slag gebly het die afgelope twee jaar. 'n Jaar of twee terug het ek gereeld elke oggend gemediteer en ek het onlangs besef hoe baie ek dit mis. So, vyf-uur in die oggend is my spesiale stil tyd, wanneer ek siel en liggaam bymekaar skraap en ontslae raak van enige lastige pla-gevoelens. 


'n Ander voorliefde van myne was om te skryf. Briewe te skryf. In my Joernale te skryf. Deurdat ek so baie tyd voor die rekenaar en op die internet deurbring, het hierdie genotjie my begin ontglip. Mens praat met al jou vriende en familie op FaceBook en op Skype, gesels met almal in hul blogs en stuur boodskappe met jou Blackberry. Oor die afgelope paar weke het ek weer begin om briewe te skryf, meesal aan my klein kinders, en hulle dink seker hul ouma is van haar sinne beroof! Maar ek kannie vir jou sê watse heerlike genot dit is om weer 'n vulpen vas te hou en toe voel hoe dit oor die papier gly nie! 


Maar eintllik is al hierdie dinge ook maar 'n tipe van kreatiwiteit - enige iets wat die siel streel is gaaf met my! 

::