Sondag 09 Oktober 2022

Hier waar ek nou is ...

 






... en alles draai 
presies uit 
soos wat ek dit
nie voorgestel het nie.

Die mooiste dag omvou as jy tot die besef kom, vandag het ek 'n kans om reg te maak, lief te hê en dankie te sê.


Saterdag 06 Augustus 2022

Pita met krakerige slaai


Vrydae het ons besigheid altyd vroeg toegemaak, 4nm, en laat-Vrydagmiddag is wanneer ek en my man dit geniet om te ontspan op die voorstoep met 'n koppie tee of koffie en 'n ligte versnapering. Hierdie Pita met krakerige slaai is een van ons gunstelinge (albei van ons eet nie juis vleis nie) en is vinnig om voor te berei. 


PITA MET KRAKERIGE SLAAI

JY BENODIG

pita-broodjies
1 koppie wit kool, fyngekap
2 medium geelwortels, in dun repies gesny
2 eetlepels rosyne
3 eetlepels grondboontjies
2 eetlepels pampoenpitte
2 eetlepels mayonnaise
1 eetlepel olyfolie
sap van ½ suurlemoen
1 eetlepel pietersielie, gekap
seesout grofgemaalde swartpeper

METODE
Berei of verhit pitabroodjies volgens aanwysings. Laat afkoel en sny in helftes. Plaas kool, wortels en rosyne in mengbak. Rooster grondboontjies en pampoenpitte liggies in ‘n droë pan. Voeg by slaai. Voeg mayonnaise, olie en pietersielie by. Geur liggies met sout en peper. Skep in pitabroodjies.


::

.

Vrydag 30 Maart 2018

Wees waar jy WIL wees!

Onbyt by Salt Café in Salt Rock, Ballito - voel of ek op 'n Griekse eiland is!

Drie maande terug het ons Gauteng verlaat - ALLES verkoop wat ons kon, alles weg gegee aan die wat wou hê,  alles weggegooi wat oorgebly het, vaarwel gesê aan my tuin, my geliefde hoenders, my tuin voëltjies, die Bloekombome en die graslande van die Transvaal   - en nou sit ons hier in Natal. 'n Bekende (het baie hierheen gekom) tóg vreemde plek - die see is mos vir 'n Gautenger net plek om te gaan vakansie hou. Almal droom van 'n huisie by die see, en nou het dit realiteit geword!


Lui-lekker ontbyt of middagete by een van die vele restaurants met 'n pragtige uitsig oor die see,


ligte aand-etes van volgraan brood met 'n groen slaaitjie oor dit so warm is


en dae gevul met wonderlike sonskyn en ook reën, salige reën omtrent elke dag.

Ek sal nie jok nie - dis nie maklik om sommer net so, na 43 jaar in een plek, jou wortels op te ruk en te trek nie - ek mis my hoendertjies, ek mis my tuin en tuin voëls, ek mis bloekombome en ek mis GRAS! Aaah, daardie uitgestrekte savanna grasvlaktes van Gauteng! - maar hier by die kus is daar nou weer nuwe uitdagings. Ek ken min van die voëls, of slange, of plante groei, so nou is daar 'n kans om weer iets nuuts te leer, nuwe avonture te onderneem, nuwe dinge om te ondersoek.

Dit kos net om nou na die lewe met nuwe oë te kyk, nuwe herinneringe te maak en nuwe vriendskappe te kweek. Ou vriendskappe is mos vir ewig, hulle sal nie weggaan nie, maar nuwe vriendskappe sal verseker dat mens alewig met nuwe oë na die lewe sal kyk.

Ek hoop jy is ook waar jy WIL wees! So geniet jou dag waar ookal jy mag wees! ♡♡♡ Maree


Dinsdag 27 Maart 2018

Afdrukke van my reis

(Foto vanaf" Wild Woman Sisterhood")

Ek is nie oud nie,
Ek is skaars.

Ek is die staande ovasie
Aan die einde van die toneelstuk.

Ek is die terugwerkende
Van my lewe as kuns

Ek is die ure
Gekoppel soos kolletjies
In 'n goeie sin

Ek is die volheid
Van bestaande.

Jy dink ek wag om te sterf ...
Maar ek wag om gevind te word

Ek is 'n skat.
Ek is 'n kaart.

En hierdie plooie is
Afdrukke van my reis

Vra my
enigiets.

Saterdag 14 Oktober 2017

Ek wens jou Genoeg

Onlangs hoor ek ’n moeder en haar dogter in hul laaste afskeidsoomblik by die lughawe. Die aankondiging dat die passasiers aan boord moet gaan het reeds plaasgevind. Hulle staan by die sekuriteitshek, omhels mekaar en die moeder sê, “Ek is lief vir jou en wens jou genoeg”.

Die dogter antwoord, “Mamma, ons lewe saam was meer as genoeg. Jou liefde was al wat ek nodig gehad het. Ek wens jou ook genoeg toe, Mamma”.

Hulle soen mekaar en die dogter vertrek. Die moeder stap na die venster wat uitkyk op die aanloopbane en waar ek sit. Terwyl sy daar staan kon ek sien sy wou en het nodig gehad om te huil. Ek wou nie inmeng in haar privaatheid nie maar sy verwelkom my deur te vra, “Het jy al vir iemand totsiens gesê met die wete dat dit vir altyd is?”

“Ja, ek het” antwoord ek. “Verskoon my dat ek vra, maar hoekom is dit ’n totsiens vir ewig?”

Sy sê “Ek is oud en sy bly so ver. Ek het uitdagings wat voorlê en die realiteit is – haar volgende vlug hierheen sal vir my begrafnis wees.”

“Toe julle totsiens gesê het, het ek gehoor jy sê vir jou dogter “..wens jou genoeg”. Mag ek vra wat dit beteken?”

Sy begin te glimlag. “Dit is ’n wens wat oorgedra is van een generasie na die ander. My ouers het dit vir almal gesê”. Sy aarsel ’n oomblik en kyk in die lug asof sy dit in detail wil onthou en sy glimlag steeds breër. “Toe ons gesê het. ‘Ek wens jou genoeg’, wens ons die ander persoon ’n lewe toe gevul met net genoeg goeie dinge om hulle te dra.” Sy draai na my, en deel die volgende asof sy dit voordra uit geheue.

Ek wens jou genoeg sonskyn toe sodat jou lewensuitkyk helder sal wees maak nie saak hoe donker die dag mag lyk nie.

Ek wens jou genoeg reën om die sonskyn steeds meer te waardeer.

Ek wens jou genoeg blydskap om jou siel lewendig en ewigdurend te hou. 
Ek wens jou genoeg pyn sodat selfs die kleinste vreugde in jou lewe groot sal lyk. 
Ek wens jou genoeg gewin om jou behoefte te bevredig. 
Ek wens jou genoeg verlies om te waardeer dit wat jy het. 
Ek wens jou genoeg hallo's om jou deur te dra deur die finale totsiens.

Sy begin te huil en stap weg.

Hulle sê dit neem ’n minuut om ’n spesiale persoon te vind, ’n uur om hulle te waardeer, ’n dag om hulle lief te kry en ’n hele leeftyd om hulle te vergeet.